
BETHAL – Inwoners sit met hul hande in die hare omdat hulle nie hul voertuie se registrasies kan hernu nie. Na wat verneem word, is die Telkomlyne reeds sowat drie weke ‘af’. Dit is glo gesteel.
Volgens inwoners het ’n mens 21 dae nadat jou voertuiglisensie amptelik verval het, tyd om dit te hernu. Indien jy dit na die 21 dae hernu, sal jou voertuig weer ’n padwaardigheidstoets moet ondergaan, en ’n boete is betaalbaar.
Mense het gevra hoekom hulle ’n boete moet betaal indien dit nie hulle fout is nie. Hulle soek antwoorde en oplossings van die munisipaliteit en Telkom.
Ridge Times het mnr. Benzi Soko, hoof van personeel by die Govan Mbeki Munisipaliteit om kommentaar gevra.
Hy het belowe om die saak te ondersoek en om meer inligting te gee.
Telkom se bestuurder op Bethal was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
’n Inwoner van Bethal wie se ADSL-lyn reeds vir langer as ’n week ‘af’ is, het gesê dat ’n Telkomwoordvoerder aan hulle gesê het dat dit maande kan neem om die lyn te herstel.



