Brand verwoes gesin op Bethal se huis en inhoud
Brandweer het nie volledige toerusting gehad om brand te blus nie
BETHAL – Die Van Vuurens kon hul twee driejarige kinders net betyds uit hul huis red Sondagoggend omstreeks 6.10vm, voor hul huis in Krieketlaan verwoes is.
Mnr. Albert van Vuuren het wakker geword en sy vrou, Cariska, wakker gemaak en gesê iets is fout.
Hy het opgestaan om ondersoek in te stel en gesien daar is rook in die sitkamer en vir me. Van Vuuren geskree om die kinders uit die huis uit te kry, want die huis is aan die brand.
“Ek het na die kinders se kamer gehardloop en hulle het vas geslaap, maar reeds begin hoes in hul slaap weens die rook,” het me. Van Vuuren gesê.
“Ek het hulle aan hul arms gegryp en uit die huis gesleep.
“Ek wou nog teruggaan om te kyk wat ons kon red, maar dit was te laat, want daar was so baie rook.”

Die brandweer het die brand probeer blus, maar volgens me. Van Vuuren het hulle nie die regte toerusting gehad nie en onder andere nie eers volledige gesigmaskers gedra nie.
“Hulle het die vensters oopgemaak en toe die vuur suurstof kry, het dit nog vinniger gebrand,” het me. Van Vuuren gesê.
Die naaste brandkraan waar die brandweer kon water kry, was glo sowat ‘n halwe kilometer vanaf die Van Vuurens se huis.
“Die brandkraan se druk was so hoog, dat die brandweerman gesukkel het om die brandslang te beheer en toe my man hom wou help, het hulle geweier.
“Natuurlik sou my man wou help, want dit was ons huis en ons besittings wat gebrand het.”
Me. Van Vuuren het opleiding in brandbestryding aangebied by ‘n onderneming wat sy en haar man van hul huis af bedryf het. Al die inligting, dokumente en rekenaars van hul onderneming is ook in die brand verwoes.
Me. Van Vuuren se 13-jarige boetie bly ook in die huis, asook haar agtjarige dogtertjie, terwyl haar ma en stiefpa en haar volwasse broer in buitegeboue op dieselfde werf woon.

Haar agtjarige dogtertjie was by haar pa op ‘n ander dorp vir die naweek en haar 13-jarige boetie het saam met haar ouer broer werk toe gegaan.
“My ma het om 5.55vm gery om my broer by die werk te gaan haal en toe was daar nog geen vlamme of rook nie,” het me. Van Vuuren gesê.
Haar ma se klere was in ‘n kas in die huis omdat hulle nog nie kaste vir die woonstel laat inbou het nie.
Die gesin het al hul meubels en klere verloor.
Me. Van Vuuren se ma dra ‘n 42 grootte broek en hemp, me. Van Vuuren dra ‘n 32/34 en mnr. Van Vuuren ‘n 34/36.
Die gesin benodig ook klere vir me. Van Vuuren se 13-jarige boetie wat in die huis gewoon het, hul agtjarige dogtertjie en twee driejarige kinders.

Die gesin het nie versekering vir hul huisinhoud nie.
Me. Marietjie Fourie, DA-raadslid, het die gemeenskap aangemoedig om die familie te help en ondersteun.
‘n Weldoener het hulle van blyplek voorsien.
Vir meer inligting of as jy wil help, skakel me. Fourie by 079 111 0000 of me. Van Vuuren by 084 819 4540.





