BETHAL – Rioolprobleme in Kerkstraat op Bethal het werknemers en eienaars van plaaslike ondernemings met hulle hande in hulle hare.
Riool loop al vir drie weke oor in Kerkstraat.
Winkeleienaars het die munisipaliteit in kennis gestel van die probleem maar het net leë beloftes gekry.
“Hulle was Vrydag hier, maar het toe gesê hul wag nog vir toerusting en sal Saterdag terugkom, maar hulle het nooit teruggekom nie,” het ’n werknemer van ’n roomyswinkel in dié straat gesê.
“Ons verkoop nou maar net roomys in geseëlde bakke, want met die stank, is daar ’n moontlikheid van besmetting,” het die werknemer gesê.
“Ons onderneming verloor geld omdat ons net roomys in toe bakke kan verkoop.”
Ander ondernemings in dié straat sukkel ook en die stank van die riool is ’n groot probleem vir hulle.
“Ons klënte wil nie hier kom nie, want dit stink so,” het nog ’n eienaar gesê.
Me. Marietjie Fourie, DA-raadslid, het gesê sy is bewus van die probleem. Sy het die munisipaliteit ingelig en gevra om dit te herstel.
Die munisipaliteit sou Maandagoggend voertuie stuur om aandag aan dié probleem te gee.
Munisipale werkers het glo later Maandag opgedaag en gesê hulle het ’n duvet in die rioolpyp gekry wat dit verstop het.
“Vroeër, in Jauarie toe hulle hier was, het hulle gesê dit was ’n hoop klippe wat die verstopping veroorsaak het,” het die inwoner gesê.
Die Ridge Times het mnr. Benzi Soko, hoof van personeel by Govan Mbeki Munisipaliteit Maandag, 14 Januarie om kommentaar gevra, maar het teen druktyd nog geen inligting ontvang nie.





