AfriForum praat oor probleme in gemeenskap
Organisasie nooi publiek na volgende vergadering op 8 April
SECUNDA – Inwoners het op Maandag, 11 Maart oor misdaad en probleme in die gemeenskap gepraat tydens AfriForum se gemeenskapvergadering.
AfriForum beplan om watertenks by strategiese plekke in Secunda op te rig om te help dat as daar weer waterprobleme is, inwoners en veral skole, steeds water sal kan kry.
Mnr. Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak, het gesê hy het reeds kwotasies gekry om watertenks op te rig, en dié projek sal binnekort afskop.
Mnr. Sipho Nzima, verteenwoordiger van Outa (die organisasie wat teen belastingmisbruik veg), het ook die vergadering bygewoon en gesê Outa sukkel om vergaderings met die munisipaliteit te reël omdat amptenare Outa probeer vermy.
Hy het gesê Outa maak tans inligting bymekaar oor Govan Mbeki Munisipaliteit wat glo geld aan drie ondernemings wat nooit die werk gedoen het nie, betaal het.
Dié bedrag aan die drie ondernemings beloop glo R13-miljoen.
Volgens mnr. Nzima het Outa reeds die naam van een van dié ondernemings, maar hul probeer nog meer inligting bymekaar maak om ’n saak te open.
Outa beplan om ’n projek te loods om omliggende dorpe te besoek en die gemeenskap aan te moedig om die gemeenskapvergaderings by te woon en meer betrokke te raak.
AfriForum se slaggat-projek is ook goed op dreef en reeds verskeie slaggate op Bethal en Trichardt is gevul.
Mnr. Du Plessis het gesê AfriForum se volgende stap is om kennisgewingsborde buite Trichardt aan te bring wat vragmotors verhoed om deur Trichardt te ry tensy hulle iets aflewer.
AfriForum beplan om nog slaggate in die omgewing reg te maak.
Hulle projek by Davieshof om die woonstelle van inwoners op te knap, het ook reeds begin en een woonstel is reeds uitgeverf.
AfriForum beplan om die geute by Davieshof te vervang, en het reeds ’n borg van R10 000 vir die projek ontvang.
Mnr. Du Plessis het al die lede van AfriForum Buurtwag en die gemeenskap wat betrokke is, bedank vir hul harde werk tydens die patrollies die afgelope maand.
“Die sekuriteitsondernemings het gesê die huisinbrake en misdaad is minder as ons patroleer,” het mnr. Du Plessis gesê.
AfriForum het ’n waterpunt by die PWC Kosmos 3-in-1 wedloop gehad en mnr. Du Plessis het almal wat gehelp het, bedank.
AfriForum het 3 000l water, 76l koeldrank, 120l Powerade en verskillende soorte verversings by hul waterpunt aan die atlete uitgedeel.
Oor veiligheid en sekuriteit, het mnr. Du Plessis inwoners wat gereeld hul hekke en huise se deure ooplos gewaarsku en gesê dat dit vir kriminele ’n uitnodiging is.
AfriForum se volgende gemeenskapvergadering is op Maandag, 8 April om 6.30nm by die Anker-gemeente.
Enige iemand is welkom om dié vergadering by te woon.
Vir meer inligting, skakel mnr. Du Plessis by 061 731 3581.





