Jayden Pieterse van Secunda wat met portale varceale hipertensie gediagnoseer was, is weer siek
“Ons huis-arts het bevestig dat Jayden se milt nou reeds 13,4cm groot is en dat dit die ander organe wegdruk”
SECUNDA – Op die oog af lyk Jayden Pieterse soos enige ander drie-jarige woelwater, maar wanneer sy mamma sy hempie optrek, staar jy vas in die operasie-letsel wat bykans heeltemal dwars oor sy magie strek.
Dit is kliphard op die plek waar me. Ame Pieterse se hand druk, en onder die naeltjie vorm daar weer ‘n borrel.
Jayden se milt is weer vergroot – hierdie keer selfs groter as voor sy operasie verlede Oktober.
Die trane sit vlak in me. Pieterse se oë weens die wete wat nou weer vir hulle voorlê.
Mnr. Victor Pieterse gaan weer binnekort sy gesinnetjie na die professor in Johannesburg aanry.
Ridge Times het aan die einde van November verlede jaar oor Jayden se toestand berig.

Jayden is met portale varceale hipertensie gediagnoseer en het hy al verskeie operasies deurgemaak.
“Sy portale aar is seergemaak toe hy as prematuur-baba ‘n voedingspyp in sy naeltjie moes kry.
“Dit het gelei tot lewerprobleme en ‘n vergrote milt van 12.5 cm,” het me. Pieterse vertel.
Die lewer funksioneer nie soos dit moet nie en dus word die milt oorlaai met afvalstowwe wat nie verwerk kan word nie.
Boonop bou die aartjies in die slukderm vanaf die keel ook blasies op wat, indien dit bars, daartoe lei dat Jayden kan doodbloei.
Hy is nog te klein vir ‘n operasie waarin hierdie aartjies afgebind kan word.
Die Pieterse-egpaar het eers op 18 Junie verlede jaar besef daar is ernstig fout toe Jayden skielik onbeheerd begin bloed opgooi het.
“Ek kry nou nog nagmerries van daardie dag toe ek in my japon met hom hospitaal toe gejaag het.
“Ons het net om die draai gewoon, maar toe ons daar aankom was my klere vol bloed.
“Dit het gelyk na stukke rou lewer wat my kind opgebring het,” het me. Pieterse vertel.
Jayden was inderhaas na Kloof Hospitaal oorgeplaas.

Dié kleuter het sedertdien verskeie operasies ondergaan om ondermeer die vloeistof wat in sy buik opgebou het, te dreineer.
Jayden het op 29 Oktober ‘n “Rex Cyctemic shunt”-operasie ondergaan waar ‘n aar uit sy nek gebruik is en van sy milt na sy lewer geneem is om die portale aar te omseil.
Die Pieterse-egpaar was egter skaars tuis met hul seuntjie of sy magie was weer so groot soos ‘n bal opgeswel.
Jayden moes weer in November ‘n noodoperasie ondergaan om die vog te dreineer. ‘n Shunt is toe met ‘n aar vanuit sy lewer na sy milt gemaak.
Hy het op daardie stadium skaars 11kg geweeg, maar na die laaste operasie in die Parktown Hospitaal het hy goed begin aansterk en die het die Pieterse egpaar net voorentoe gekyk.
Jayden het egter onlangs die koksaki-virus opgedoen en sy liggaampie is net nie bestand om daarteen te baklei nie.
Verlede week het sy gesondheid ‘n slegte wending geneem en sy magie het weer begin opswel.
“Ons huis-arts het bevestig dat Jayden se milt nou reeds 13,4cm groot is en dat dit die ander organe wegdruk.
“Ons moet weer die professor gaan sien wat hom geopereer het, want die shunt het moontlik verstop,” het me. Pieterse vertel.
Die egpaar vat steeds nie grond met al die mediese rekeninge en ander benodigdhede wat aangekoop moet word om hul enigste spruit te help nie.
“Ons het ‘n goeie mediese fonds, maar omdat die spesialiste uitgekontrak is, hoop ons kostes op,” het mnr. Pieterse, ‘n mynwerker, vertel.
Me. Pieterse moet voltyds na Jayden omsien en dus is die gesinnetjie net van een inkomste afhanklik.
“Ek bedel nie, ek vra net om hulp.
“Ons kan net eenvoudig nie al die uitgawes gedek kry nie,” het me.
Pieterse gesê, terwyl sy die trane afgesluk het.
‘n Bankrekening is in Jayden se naam geopen en sy ouma, me. Chenay Pieterse, beheer die betalings van rekeninge en die aanvullings soos wat skenkings inkom.
Sy kan geskakel word by 079 646 6955.

Lees ook:
https://www.citizen.co.za/ridge-times/128989/jayden-pieterse-2-ondergaan-verskeie-operasies-maar-vog-bou-steeds-maag-op/



