SECUNDA – Me. Isabelle Retief se liefde vir musiek het oorgespoel na haar vier dogters en van kleinsaf deel dié vier in hul ma se talente en passie vir musiek.
Me. Magdaleen Smal (24), me. Cornelia Retief (22) en me. Christina Retief (20) kan verskeie instrumente speel en Magdaleen, Cornelia en Christina gee ook sedert hulle in die hoërskool is, musieklesse.
Me. Katrien Retief (26) skryf kinderboeke.
Me. Isabelle Retief is ‘n private musiekonderwyser en gee musieklesse sedert sy haar honneurs-graad in musiek aan die Universiteit van Noord-Wes (Potchefstroom) in 1990 voltooi het.
Sy is die afgelope 19 jaar ‘n orrelis by die Gereformeerde Kerk op Secunda en geniet dit baie. Sy het na ses maande by ‘n skool as musiekonderwyser gewerk en vinnig besef haar passie lê eerder by private musiekonderrig.
Me. Retief en drie van haar dogters tree gereeld saam by geleenthede op waar hulle verskillende instrumente wat die djembe-trom, tjello, kitaar, klavier, ukulele en viool onder meer insluit, gebruik om hul vokale ensemble te begelei.
“Dit is vir my ‘n voorreg om mense te help om klassieke en ligte musiek te ontgin,” het me. Retief gesê.
“Ons doelwit is om mense musiek te laat proe en geniet.”
Haar dogters gee meestal musiekonderrig aan jong leerders in klavier, ukulele, sang, viool, klawerbord en die djembe-trom.
Me. Retief het baie jong leerders, maar sy fokus ook met groot geesdrif op volwassenes.
Sy bied lesse aan in tjello, baskitaar, djembe, klavier, klawerbord, sang en kitaar vir eksamendoeleindes.
Sy het ses jaar gelede ‘n djembe-sirkel begin waar ‘n groep mense saam op dié spesifieke tromme speel.
Van die al die instrumente wat sy kan speel, is die orrel en klavier haar gunstelinge.
Me. Retief het, toe haar dogters nog klein was, gereeld kinderkabaret geskryf en sy toonset nou nog graag Psalms.
Haar oudste dogter, Katrien, wat serebraal verlam is sedert haar geboorte, het reeds twee kinderboeke laat publiseer en skryf tans haar derde een.
Me. Retief is ‘n buitelug-mens en bestee graag tyd saam met haar man en vier dogters of in die natuur waar sy draf in haar vrye tyd.




