MunicipalNewsSchools

Kruinpark is bekommerd oor leerders se padveiligheid

DA-raadslid het brief aan Govan Mbeki Munisipaliteit oorhandig

SECUNDA – Die personeel en bestuur van Laerskool Kruinpark is bekommerd oor hul leerders se veiligheid nadat daar al verskeie kere bykans ‘n kind in die strate naby dié skool raakgery is.

DA-raadslid, mnr. Tim Denny, het die skool gehelp om ‘n brief en petisie op te stel wat hy aan die Departement van Verkeer asook Govan Mbeki Munisipaliteit in April oorhandig het.

Die brief lui dat voertuie te vinnig in die omgewing van die skool ry sonder om die leerders in ag te neem.

Die skool het in dié brief die munisipaliteit versoek om meer spoedwalle om die skool, veral in Tugelastraat, aan te bring.

In die brief staan daar ook dat voertuie nie stadiger ry by die verkeersirkels op die hoek van Tugela- en Vaalrivierstraat nie en dat leerders daagliks oor Tugelastraat loop.

Volgens die brief voer die bestuur aan dat spoedwalle in Tugelastraat sal help om voertuie te dwing om spoed te verminder.

Hulle wil ook spoedwalle by die sirkel by Vaalrivier- en Shebastraat hê, asook by Piketbergstraat waar die pad ‘n draai maak wat by die skool se gr.R-klasse geleë is.

Die skool het die munisipaliteit ook versoek om twee verkeersreguleerders aan te stel of aan die skool beskikbaar te stel om te help met die vloei van verkeer in die oggende en in die middae gedurende spitstye.

In hul laaste punt, het die skool die munisipaliteit gevra om die strepe in die paaie om die skool asook die spoedwalle te verf sodat dit sigbaarheid kan verhoog.

Die hoof, mnr. Danie Heese, het die brief afgesluit met: “Ons leerders se veiligheid is vir ons skool ‘n bekommernis en ons glo in samewerking met die munisipaliteit en dat ons die probleem met veiligheid by ons skool kan aanspreek.”

Die Ridge Times het drie werknemers van die Govan Mbeki Munisipaliteit se media-afdeling, mnre. Benzi Soko, Donald Green en Lucky Mhlongo, om kommentaar genader op Vrydag, 26 April, maar hulle het teen druktyd nog nie gereageer nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button