Hennie Fourie gee nie moed op na Guillain Barré en wen Suid-Afrikaanse Hengelkampioenskap
Man geniet nuwe stokperdjie en blink uit
SECUNDA – Hoewel daar baie moeilike tye was sedert mnr. Hennie Fourie in 2009 met Guillain Barré gediagnoseer is en hy selfs bykans heeltemal bedlêend was, het hy nie moed opgegee nie.
Mnr. Fourie loop vandag weer nadat hy van sy nek af verlam was, aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel was en vir sewe maande in die hospitaal was weens die siekte.
Guillain Barré is ‘n siekte waar die immunstelsel die senuweestelsel aanval.
Hy was aktief voordat hy gediagoseer is. Mnr Fourie het daagliks met sy fiets werk toe gery en al 10 keer die Comrades marathon voltooi.
Hy het in 1996 sy eerste Comrades aangedurf en was van plan om in 2009 weer deel te neem nadat hy vir twee jaar ‘n breek geneem het.

Hy het in 2009 een dag van die werk af tuis gekom en niks makeer nie.
Sy hand het wel soms as hy fiets gery het, doodgegaan, maar hy het gedink dit is van die fiets se handvatsels en dan net sy hand bietjie beweeg totdat die dooie gevoel weggegaan het.
Dinge het egter ernstig begin raak toe hy een oggend nie sy broek kon aantrek nie omdat sy bene skielik te swak was.
Sy vrou, me. Bernice Fourie, het hom na die dokter geneem en hy is dieselfde dag in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal opgeneem.
Die dokter het vir hom gesê sy vermoed dit is Guillain Barré en hom na ‘n internis verwys.
Mnr. Fourie was vir 10 dae onder verdowing en is later na ‘n hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.
Sy longe het ingegee en hy is aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel en moes ‘n lugpyp kry.

Hy is ná sewe maande uit die hospitaal ontslaan en sy vrou en dogter, wat toe net 11 jaar oud was, het hom tuis versorg.
“Hy was soos ‘n baba en ons moes alles vir hom doen,” het me. Fourie gesê.
Mnr. Fourie het egter nie moed opgegee nie en daagliks sy oefeninge gedoen, asook hulp gekry van ‘n arbeidsterapeut, ‘n fisioterapeut en ‘n biokinetikus.
Sedert sy siekte, is daar baie dinge wat hy voorheen kon doen wat hy nou nie meer kan doen nie.
Sy duime is verswak en hy kan nie iets soos gewone mense vashou nie en hy sukkel om te loop.
“Dit was erg vir my toe ek in die hospitaal gelê het en my kind wou druk, maar ek kon nie, want ek kon nie eens my arms optel nie,” het mnr. Fourie gesê.
“Dit hang alles van jou gedagtes af, as ‘n mens besluit het jy gaan dit nie maak nie, dan gaan jy die nie maak nie.”
Mnr. Fourie is vandag ‘n spanlid van die Mpumalanga Hengelspan en het eerste geëindig by die Suid-Afrikaanse Hengelkampioenskap verlede jaar.
Hy het in Februarie aan die Wêreldspele in hengel deelgeneem en het ‘n silwer medalje verower.

Hy neem in die afdeling vir gestremdes deel en het iemand wat hom help om die vis in die net te sit.
Me. Fourie het, toe haar man herstel het, hom aangemoedig om ‘n stokperdjie te kry wat hy geniet omdat hy vóór die siekte so aktief was.
‘n Vriend, mnr. Johan Oosthuizen, was ‘n lid by Secunda Hengelklub en het mnr. Fourie oortuig om ook te begin hengel.
“Hy het my ook aangespoor om aan die hengelproewe deel te neem,” het mnr. Fourie gesê.
“Hy het uithouvermoeë en wilskrag wat ek al by min mense gesien het,” het me. Fourie gesê.
“Ek haal my hoed af vir my man.”
Mnr. Fourie het sedert sy siekte ander mense wat ook Guillain Barré het, bemoedig en aangemoedig om harder te probeer.
Hy kry nog soms afdae en is soms gefrustreerd omdat hy nie alles kan doen wat hy voorheen gedoen het nie, maar hy bly positief.





