Local newsNews

Ouers van gestremde kind in Secunda vra terapeute om te help

“Ek glo werklik Arno sal vinniger vorder en sterker word as hy terapie ontvang,” vertel me. Saunders (jnr)

SECUNDA – Arno Saunders is ooglopend klein vir sy ouderdom.

Mens kom dit dadelik agter waar hy op ‘n matrassie in die kombuis lê en klapgeluidjies met sy tong maak om vir sy ma, me. Elize Saunders, en ouma, me. Anita Saunders, te laat weet dat hy sy bottel wil hê.

Sy koppie is slap toe sy ouma hom op haar skoot tel en later vir sy mamma aangee.

Arno kan nie soos ander vyfjariges rondhardloop, baljaar, babbel en speel nie. Volgens me. Saunders (Elize) is hy serebraal gestremd weens te min suurstof in die baarmoeder en het sy spierfunksies nie normaal ontwikkel nie.

Ouma Anita meen egter Arno is ‘n regte klein platjie met ‘n groot persoonlikheid.

Me. Elize Saunders met haar gestremde seuntjie, Arno.

“Hy lag en maak geluidjies as hy vrolik is. Hy raak baie opgewonde, veral wanneer hy sy oupa Anton of pappa Allen hoor, of wanneer daar ander kinders om hom is,” het sy verduidelik.

Dit is veral Chloé, sy niggie van byna twee jaar, wat hom laat blom.

“Hy kry ook nukke en kan sy lippie op ‘n prul trek as hy raas kry.”

Volgens me. Elize Saunders was dit aan die begin baie moeilik om met ‘n gestremde baba te werk, maar sy is nou al so gemaklik met Arno se versorging, dat sy skoon skrikkerig is vir volgende jaar wanneer Arno na Marietjieskool gaan.

Sy wys dat haar kleinding wel al vir ‘n kort rukkie kan regop staan as sy hom ondersteun.

Haar hartsbegeerte is dat Arno meer aan terapie blootgestel kan word.

“Ons het nie ‘n mediese fonds nie en moet Arno na Evander Hospitaal neem vir hulp, maar ons kan nie gereeld daar uitkom nie omdat nie een van ons vroue bestuurlisensies het nie en my man en sy pa lang ure werk.”

Dié twee vroue vra dus of daar plaaslik terapeute in Secunda is wat hul harte vir Arno sal oopmaak en hom met fisioterapie en spraakterapie kan help.

“Ek glo werklik Arno sal vinniger vorder en sterker word as hy terapie ontvang,” het me. Saunders (jnr) gesê. Skakel me. Saunders (snr) by 082 737 7684.

Me. Elize Saunders hou haar seuntjie, Arno (5) vas. By hulle is ouma Anita Saunders.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button