Die toenemende aantal water- en rioollekke op Standerton, stem inwoners tot kommer en laat burgerregte-organisasies soos AfriForum, met ‘n probleem om sy mandaat aan inwoners na te kom.
Verskeie rolspelers word geïmpliseer, naamlik ‘n sukkelende Lekwa Munisipaliteit met infrastruktuurprobleme of die eufemistiese ‘uitdagings’, die provinsiale departement van water en sanitasie, die nasionale regering se beleid oor verskaffing van skoon drinkwater aan Suid-Afrikaners wat ‘n grondwetlike reg is, politieke partye wat in die politieke arena moet debatteer oor kwessies en ‘n gemeenskapskoerant wat poog om sy vinger op die pols van sake te hou.
Die Standerton Advertiser het op 11 Junie met mnr. Bronwen Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum se Hoëveldstreek, in gesprek getree oor hul betrokkenheid by die probleme.
Volgens mnr. Pretorius, is die pompstasies sowat drie jaar gelede herstel nadat Lekwa ‘n kontrakteur aangestel het.
Sy voorganger, mnr. Hillel Coetzer, het destyds ‘n saak by die Standerton Polisie aanhangig gemaak.
AfriForum se watertoetse in die Vaalrivier het ook onaanvaarbare hoë e-coli-vlakke getoon.
Hulle het beplan om op Donderdag 13 Junie weer die ‘groen en blou’ druppel-toetse te doen van drinkwater op die dorp, Meyerville, Kosmospark en Sakhile, waarvan die uitslag na 24 tot 28 uur bekendgemaak kan word.

“As ons mense kry om te help, hetsy finansieel of andersins, kan ons iets doen,” het mnr. Pretorius gesê.
Hy het aangedui dat ondernemings op die dorp wel ingespring het om bystand te verleen met die groot lyn in Mulderstraat wat geblokkeer is.
Riool wat oral oor oorstoot, is die gevolg hiervan.
Materiaal en toerusting is reeds bestel en mnr. Pretorius het die ondernemings en die selfdoenforum vir hul hulp bedank.
Die kruisings by Kieser- en Paarlstraat, sowel as Suikerboslaan en Palmsingel, tel onder hul suksesse.
Die rol wat sosiale media speel met verwysing na aanmelding van riool- en waterlekke, kan nie onderskat word nie.
Me. Theresia van Wyk van Robertstraat 11 in Meyerville het op 13 Junie gesê dat inwoners moedeloos is om probleme by die munisipaliteit aan te meld.
Sy het met haar ondersoek 13 probleemgebiede geïdentifiseer en aan die koerant gestuur.
Een verdien vermelding, nie dat dit ander geringgeskat word nie, die stormwatersloot in Hawthornestraat wat tot ‘n gat in die teerpad gelei het. Die veiligheidsrisiko vir motoriste en voetgangers, veral in die aand, is legio.
“So goed jy gaan Shoprite toe, betaal vir ‘n trollie kos, betaal dit en loop sonder die kos uit,” het me. Van Wyk gesê.
“So voel ek oor die maandelikse belasting en basiese heffings aan Lekwa.”
Mnr. Rosier de Ville, DA-raadslid vir wyk 10, het op 12 Junie ‘n bykomende faktor genoem.
“Water in die strate syfer deur na die fondasies van huise en geboue,” het mnr. De Ville gesê.
Versekeringseise is dan ook ter sprake. Hy het op ‘n onlangse wykraadsvergadering beklemtoon dat probleme aangespreek moet word vanweë groter skade wat aangerig word, wat beduidende finansiële implikasies het.
“Inwoners is welkom om by 082 550 7802 tussen 8vm en 5nm te skakel, self later as dit dringend is,” het hy bygevoeg.
Die Standerton Advertiser het ‘n lys van water- en rioollekke, soos ontvang van AfriForum, teen die einde van Mei aan me. Thobeka Mtshiselwa, kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit, oorhandig.
Me. Mtshiselwa het reeds meer as ‘n week gelede aangedui dat Lekwa ‘n mediakonferensie voor die einde van Junie gaan hou om sake wat dringend aandag verg, aan te spreek.
‘n Spesifieke datum is nie gegee nie.




