Loggie van Loggerenberg geniet mondfluitjies en ander musiekinstrumente
Musikant besit meer as 60 mondfluitjies
SECUNDA – Musiek is mnr. Loggie van Loggerenberg se lewe.
Hy het toe hy net sewe jaar oud was, sy eerste mondfluitjie in die straat op pad skool toe opgetel en min geweet hy sou later ‘n bobaas-mondfluitjiespeler word en selfs CD’s vrystel.
Hy het in Johannesburg grootgeword en na skool as stoorman by die destydse Spoorweg vir 19 jaar gewerk.
Hy het later na Vanderbijlpark verhuis en as operateur vir Yskor gewerk voordat hy dit vir Sasol op Secunda verruil het, waar hy vir 27 jaar gewerk het totdat hy in 2010 as ‘n senior proseskontroleerder afgetree het.
Mnr. Van Loggerenberg het na skool in ‘n orkes gespeel, Glen Dickson and the Shufflers en eers die baskitaar bemeester, maar dit later vir die mondfluitjie verruil.
Hy het homself leer mondfluitjie speel en na musiek van ander mondfluitjie-kunstenaars geluister en dan soos hulle probeer speel.
Hy het in 2016 ‘n kompetisie waaraan verskeie mondfluitjiespelers deelgeneem het, gewen.
Hy moes ‘n video waar hy mondfluitjie speel, maak en aan die beoordelaars in Engeland stuur.
“Ek was baie verbaas toe hulle my geskakel het en gesê het ek het gewen,” het mnr. Van Loggerenberg vertel.
Hy hou daarvan om alle soorte musiek, van Jazz tot klassieke boeremusiek, op sy mondfluitjie te speel.
Hy en sy vrou, me. Ina van Loggerenberg, het na sy aftrede na Johannesburg getrek omdat hy baie in Gauteng opgetree het.
Die egpaar het egter drie maande gelede besluit om weer na Secunda terug te keer en mnr. Van Loggerenberg wil graag meer gereeld optree in die omgewing by feeste, of enige ander spesiale geleenthede.
“As jy eers een keer op Secunda was, kom jy altyd terug,” het hy gesê.
Hy het al die verhoog gedeel met bekendes soos Lance James, Bobby van Jaarsveld en die Campbells.
Sy rolmodel is die mondfluitjiespeler, Vincent van Rooyen.
Mnr. Van Loggerenberg sou Van Rooyen ontmoet, maar Van Rooyen is oorlede voordat hulle die ontmoeting kon reël.
“Ek het gereeld na sy musiek geluister en dan agter hom aan die note gespeel.”
Mnr. Van Loggerenberg is trots dat hy 44 jaar gelede opgehou rook het en hy reken hy sou nie so goed kon mondfluitjie speel en so lang asem gehad het, as hy nog gerook het nie.
Hy het al meer as 60 mondfluitjies in sy versameling en sy gunsteling maak is die Hohner mondfluitjie.
Een van sy mondfluitjies is so klein dat hy dit heeltemal in sy mond druk en met sy tong die note speel.
Hy het al altesaam 13 CD’s vrygestel waaronder een Gospel-album en een Kersfees-album.
Van sy CD’s bevat tot 21 liedjies.




