Local newsNews

Gestremde van Secunda is ’n krieket-skeidsregter

Hy kon nou wel nie die sport beoefen nie, maar het in graad 10 sy provinsiale skeidsregterskursus voltooi en het verskeie skoolwedstryde beslis

SECUNDA – As daar een ding is wat mnr. Johan Folscher vir sy dogter sal wil nalaat, is dat sy mense as gelyk sal sien al lyk die ander person dalk snaaks van buite.

“Al neem daardie person langer om iets te voltooi, gee hom steeds die kans om dit te doen,” het dié 41-jarige rekenmeester verduidelik.

Hy het deur die jare geleer om hom nie aan gemene mense te steur nie en sal selfs vir krieketspelers, wat met hom draaksteek, ‘n pittige antwoord gee.

“My geloof is sterk genoeg om nie toe te laat dat dit my ontstel nie. Die mense wat vir my belangrik is, sien nie gebrek raak nie. Gelukkig het my ouers my nie in watte toegedraai nie.”

Mnr. Folscher het as pasgebore baba ‘n skielike suurstoftekort gehad wat veroorsaak het dat ‘n deel van sy regterbrein beseer is.

Dit het daartoe gelei dat sy linkerarm en been gestremd is en dat hy ook epilepsie het waarvoor hy chroniese medisyne drink.

Sy ouers, mnr Johan en me. Estelle Folscher het hul middelkind van kleinsaf grootgemaak om onafhanklik te wees en het hom aangemoedig om so aktief moontlik te wees.

Sy ouer suster Jonelle en jonger broer Emile is albei sport-uitblinkers en mnr. Folscher wou ook sy merk laat.

“Ek was in Laerskool Secunda en het toe in karate tot by rooi-gordel gevorder. Op hoërskool het ek jukskei en skaak gespeel en in matriek het ek aan atletiek vir gestremdes deelgeneem.”

Dit was egter sy liefde vir krieket wat mnr. Folscher aangespoor het om in die sport uit te blink. Hy kon nou wel nie die sport beoefen nie, maar het in gr. 10 sy provinsiale skeidsregterskursus voltooi en het verskeie skoolwedstryde beslis.

Hy het later ook klubwedstryde hanteer en is veral bekend onder die plaaslike krieketspelers vir skeidsregterskap.

“Die droom is maar steeds daar om dalk eendag op Wanderers ‘n wedstryd te beslis,” het hy vertel.

Sy gestremdheid keer hom ook nie om met sy gesin se honde te gaan drafstap of om aksie-krieket te speel nie.

Mnr. Folscher het ook as jongman geweier om met ‘n outomatiese motor te leer bestuur en het sy bestuurderslisensie in ‘n motor met ‘n ratkas afgelê.

Hy het sedertdien ook nie gevoel dat dit vir hom nodig is om ‘n outomatiese motor aan te skaf nie.

“Ek kan alles doen wat ander mense doen, maar ‘n paar goedjies is dalk net effens stadiger,” vertel hy.

Sy vrou Zelda weet dit glo maar net te goed.

“Sy wou in die begin dinge vir my makliker maak en sou goed uit my hande wou vat, maar dit het gou verander. Ek wil ook my deel in die huishouding doen en daar is werklik niks wat ek nie kan doen nie – van groente skil tot huis skoonmaak.”

Die egpaar is in 2011 getroud en het ‘n vyfjarige woelwater, Lianke. Hy beskryf homself as ‘n gesinsman wat graag tyd saam met sy gesin bestee.

Mnr. Johan Folscher laat nie toe dat sy gebrek hom kniehalter nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button