Mariana en Gerda is slaggereed vir kompetisie
Dié twee Boervroue se mans is maar mos hul proefkonyne en hul was wel bereid om sommige van die moets en moenies van kosmaak te deel.
Twee vroue van Standerton se kooktalente het hul tot by moontlike Kokkedoor-status gebring.
Me. Gerda Büter en me. Mariana Kotze het vir dié gewilde kompetisie op KykNET ingeskryf nadat hul aansoek die toets geslaag het.
“Dit was byna soos ‘n cv,” het Mariana gesê.
In 600 woorde moes hul hul agtergrond gee, hul liefde vir kos beskryf en heel belangrik, aandui of hulle onder druk kan werk.
“Jy het nie ‘n ‘cooking clue’ gehad oor hoeveel mense aansoek gedoen het nie,” het Gerda gesê.
Albei is lief vir kosmaak en hul vernuf sal op 18 Julie op die proef gestel word in dié realiteitsreeks waar kokke gaan bak en brou.
“Ek kan vir enigeen ‘n pot pap maak, maar dit is anders as dit met liefde gemaak word,” het Mariana verklap.
‘n Spyskaart moes uitgewerk word met voorgereg, hoofgereg, nagereg, die hele katoetie en daar was nie eens ‘n kombuis nie.
Praat van uit jou gemaksone wees.
‘n Paneel beoordelaars proe dan die koue gereg en Gerda het skaapvleisfrikadelle, ‘n lagie slaai met tuisgemaakte mayonnaise voorgesit, terwyl Mariana sult met tuisgebakte brood en tuisgemaakte botter voorberei het.
Om alles te kroon, is geen aanduiding gegee of hul geregte goed afgegaan het nie.
Standerton se vroue was geensins geïntimideerd nie en deeglik bewus daarvan dat, in hul eie woorde, ‘geen krulletjies, frilletjies of draaitjies’ die geluksgodin vriendelik sou laat glimlag nie.
Gerda en Mariana het heel voorspelbaar vlinders op die maag.
Vir die derde seisoen van Kokkedoor sal onderskeid tussen kinkel- en onthoukokke getref word met eersgenoemde se sjefkwalifikasies wat ingespan gaan word en laasgenoemde se vernuf as ‘n huiskok.
Voorskote vir die twee soorte verskil ook in kleur en onthoukokke het ‘n beige een en kinkelkokke ‘n bloue.
Die hoogs professionele span het hul ook voor die kamera met vrae gepeper.
Onthoukokke het nie formele opleiding nie, maar kan tradisionele uithalergeregte aanmekaarslaan met geheues wat terugloop na oumas, ma’s en tannies se kombuise.
Dié twee Boervroue se mans is maar mos hul proefkonyne en hul was wel bereid om sommige van die moets en moenies van kosmaak te deel.
“Moenie kosmaak afjaag nie,” het Mariana benadruk.
“Beplan deeglik voor jy begin,” was Gerda se stuiwer in die armbeurs.



