Gisele en Marchel van Kansa moedig mense aan om Cuppa’s te reël
Organisasie wil nuwe lewe in funksies inblaas
SECUNDA – Die personeel en vrywilligers van Kansa se Kosmos-tak op Secunda het op Vrydag, 14 Junie vir belangstellendes meer oor ‘n Cuppa vertel en ook wenke gegee hoe hulle ‘n Cuppa kan reël.
Me. Gisele Bosman, gemeenskapsmobiliseerder vir Kansa Kosmos-tak, het die gehoor bedank dat hulle die geleentheid bygewoon het.
“Ons wil op elkeen se storie fokus,” het me. Bosman gesê.
Sy het mense wat hul stories oor kanker wil deel, aangemoedig om betrokke te raak by Cuppa’s.
“Dit is dalk nie altyd lekker vir die persoon wat die storie deel nie, maar ander mense kan by dit baat.”
Sy het gesê sommige organiseerders van Cuppa’s kry motiveringsprekers of sangers om by hul Cuppa’s op te tree, maar dit hoef nie altyd die formaat van ‘n Cuppa te wees nie.
“Jy kan iets anders doen as jy ‘n Cuppa reël,” het me. Bosman gesê.
Sy het mense aangemoedig om die bekers met inspirerende woorde wat Kansa verkoop, te koop.
Me. Marchel Kruger, ook ‘n gemeenskapsmobiliseerder by Kansa Kosmos-tak wat self ook ‘n pad met kanker gestap het, het die mense toegespreek en van haar ondervinding vertel.
Sy is twee keer met kanker gediagnoseer en het gesê die eerste keer het sy dit soos ‘n besigheidstransaksie hanteer en het haar familie nie toegelaat om saam te gaan na doktersafsprake nie.
“Ek glo siektes kom nie van God nie,” het me. Kruger gesê.
“In ons omstandighede, moet ons soms onsself afvra, hoekom is ek by dié berg?
“Ek het nooit gedink ek sal vandag hier staan en vir ‘n organisasie soos Kansa werk nie.”
Sy glo alles gebeur vir ‘n rede en dat kanker haar lewe gered het, omdat sy besef het sy kan haar lewe in ‘n oogwink verloor.
“Ek het begin dink aan waaraan ek tyd bestee en watse vriende ek maak.”
Volgens haar word een uit elke drie mense geraak deur kanker.
“Vir my bied ‘n Cuppa die geleentheid aan mense wat deur kanker geraak word om saam te lag, saam te huil en mekaar se stories te deel.”
Sy het mense wat goed is daarmee om geld in te samel en funksies te reël, aangemoedig om by Kansa betrokke te raak.
“Ons wil nuwe lewe in die Cuppa’s blaas en benodig nuwe mense om ons te help.”
Vir meer inligting, skakel Kansa by 017 631 2857.



