Herderspaar verruil Fouriesburg vir Evander
Belangstellendes is welkom om dienste by te woon op Sondae om 9vm.
EVANDER – Ds. Dawie Meyer (60) en sy vrou, Estelle, het op 1 Junie amptelik by die N.G. Kerk op Evander as nuwe herderspaar begin.
Die egpaar het Fouriesburg vir Evander verruil.
Hoewel ds. Meyer reeds op 17 geweet het hy moet ‘n predikant word, het hy eers later in sy lewe, toe hy 40 jaar oud was, in die bediening getree.
Hy het in Pretoria grootgeword en het na skool twee jaar diensplig in die lugmag op Waterkloof en Swartkops gedoen.
Na sy diensplig het hy by die spoorweg as ‘n leerling-ingenieursassistent gewerk totdat sy wiskunde hom in die steek gelaat het.
Na ‘n paar jaar in die personeelkantoor, het hy begin met noodhulpopleiding by die spoorweg.
Hy het dié pos beklee tot 1990 toe die spoorweg begin privatiseer het en van die poste in gevaar was.
Ds. Meyer het toe as mediese onderskrywer by Ou Mutual begin werk.
“Die Here het gereeld vir my gesê: ‘Jy weet wat jy moet doen,’ dan het ek verskonings gehad en vir die Here gesê ek het nou-net ‘n motor gekoop, of begin met ‘n gesin en kinders,” het ds. Meyer vertel.
“Ek het in 1992 besef ek kan nie meer vir die Here weghardloop nie en moet gehoorsaam wees.”
Hy het intussen personeelbestuur deur Unisa studeer totdat hy besef het hy moet begin doen wat die Here al lankal op sy hart gelê het.
Hy het die sakewêreld agtergelaat en het in 1994 voltyds teologie begin studeer.
Me. Meyer het in dié tyd wat ds. Meyer voltyds studeer het, as onderwyser gewerk en ook ekstra wiskunde-klasse gegee om die pot aan die kook te hou.
“Die Here het wonderlik vir ons in dié tyd voorsien,” het ds. Meyer gesê.
“Die kinders wou met hul balletklasse aangaan en ons het vir hulle gesê daar is nie geld nie, ons moet bid en die Here vra waarna die balletonderwyser vir ons gesê het sy sal die dogters borg om verder balletklasse te neem.
“Die Here sorg wonderbaarlik vir jou as jy gehoorsaam is.”
Na sy studies het hy en sy gesin na Bloemhof-Oos in Noord-Wes verhuis en by hul eerste gemeente as herderspaar begin.
Hulle het na 11 jaar in Bloemhof-Oos ‘n roeping na Fouriesburg aanvaar waar die egpaar gedien het tot vanjaar toe hulle na Evander verhuis het.
Hulle het twee dogters en skoonseuns en is oupa en ouma van vier kleinkinders, onder wie ‘n tweeling is.
Ds. Meyer het, toe hy noodhulp gedoen het en in Pretoria gewoon het, gereeld op Loftus Versveld-Stadion gewerk gedurende rugbywedstryde en is steeds lief om sport te kyk.
Hy en me. Meyer geniet dit om te braai en saam met vriende en familie te kuier.
“Ons hou van lag en gesels,” het ds. Meyer gesê.
“Ek is ‘n mense-mens en sal saam met die kinders rondhardloop.
“Dit is lekker om te lewe, ons is jonk van gees en ons geniet die lewe.”
Hulle is dankbaar om nou nader aan hul twee dogters wat op onderskeidelik Potchefstroom en in Pretoria woon, te bly en kan hul kinders en kleinkinders nou meer gereeld sien.
Hy speel ook nou en dan gholf as hy die geleentheid kry en me. Meyer is betrokke by die kerk se Bybelstudiegroepe en vrouegroepe.
Sy hou daarvan om funksies te reël en is bereid om weer wiskunde-klasse op Evander aan te bied as daar ‘n behoefte daarvoor is.
“Ek het gesien hoe kinders se lewens verander het omdat hulle wiskunde kan baasraak en ek hou daarvan om ‘n verskil in mense se lewens te maak,” het me. Meyer gesê.



