Leon Hattingh gebruik sy kennis om lede vir SAWV te werf
Leon het 17 jaar en twee maande in die staandemag gedien en as adjudant-offisier uitgetree met ’n loopbaan wat hom vanaf Wonderboom, Pretoria tot by Grahamstad, Potchefstroom, Durban en Johannesburg geneem het, tot weer op Standerton.
Mnr. Leon Hattingh wat nie bekendstelling in weermagkringe nodig het nie, werf voltyds lede vir die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) se militêre veterane.
Standerskop-eenheid is in Maart 2016 gestig met die hoofdoel om ‘n leiersgroep vir die eenheid te identifiseer en die veterane het verskillende projekte wat almal die naam van ‘n voël dra soos kolgans, suikerbekkie en kiewiet.
Hulle vergader juis maandeliks by ‘n gastehuis en eet gesellig saam ontbyt om kamaraderie te bevorder en ook om geld in te samel vir veterane wat moontlik gesondheidshulp benodig of ander verwante probleme ondervind.
Die SAWV skep ‘n ondersteuningsnetwerk en spits hom grootliks op die toekoms toe deur projekte aan te pak om ‘n beter toekoms vir lede te help bied.
‘n Organogram van die SAWV verdeel die land in provinsies, sektore en eenhede met ‘n oorhoofse nasionale uitvoerende raad en hulle is afhanklik van jaarlikse ledegeld.
Almal wat in die Unie-verdedigingsmag en die SA Weermag vanaf 1946 tot 1994 in uniform of as burgerlikes diens gelewer het, kwalifiseer om by die veterane aan te sluit.
Die Militêre Veterane Wet van 2011 maak voorsiening vir voordele aan veterane en lede word aangemoedig om op hulle databasis te registreer.
Leon is die kommunikasie/werwingsbeampte van die Standerskop-eenheid op Standerton.
Gades van weermaglede se ondersteunende rol tydens hulle mans se dienstydperk, word ook erken.
Leon het 17 jaar en twee maande in die staandemag gedien en as adjudant-offisier uitgetree met ‘n loopbaan wat hom vanaf Wonderboom, Pretoria tot by Grahamstad, Potchefstroom, Durban en Johannesburg geneem het, tot weer op Standerton.
Hy was vanaf 1977 tot 1979 in Hoërskool Standerton, maar die grootste gedeelte van sy skoolloopbaan is op De Doorns deurgebring waarvan die herinneringe nog vars in die geheue is.
“Daar is nie twee druiweprieelblokke langs mekaar wat dieselfde kleur het nie.”
Met logistieke ondervinding wat ook by die Departement van Waterwese opgedoen is, word die storie vooruitgeloop want hy het in 1997 ‘n pakket aanvaar by die weermag en sy destydse voornemens duidelik verwoord:
“Ek het nie afgetree nie, maar uitgetree.”
Dié departement was ook die werkgewer van sy pa en is sy vrou, Alicia, se huidige werkgewer.
Leon het verlede Mei by die reserwemag aangesluit.
Hy het deur die jare gholf op bane op Mkhondo (Piet Retief), Grahamstad, Humewood, Makhado (Louis Trichardt) en by die Wildekus gespeel en het in 1995 ‘n beamptekursus in atletiek voltooi en was later ‘n provinsiale skeidsregter.
Dié lidmaat van die N.G. Kerk se Wesgemeente sal sy kerkklere vir ‘n uniform verruil om stiptelik by kransleggingsparades aan te tree.



