Bejaarde van Volksrust oorlede na brand
Die brandweer en nooddienste is ontbied en nadat hulle opgedaag het, is slegs die vlamme in een kamer gesien met die oorledene wat op die bed gelê het.
Me. Ria Oosthuizen (84), liefdevolle moeder en ouma, is op Sondag 30 Junie op haar bed in haar huis op Volksrust dood aangetref.
Volgens die kommunikasiebeampte van die Volksrust Polisie, adj. Sonnyboy Mathebula, het die polisie ‘n oproep oor ‘n brand gekry.
Die brandweer en nooddienste is ontbied en nadat hulle opgedaag het, is slegs die vlamme in een kamer gesien met die oorledene wat op die bed gelê het.
“Sy was reeds dood,” het adj. Mathebula gesê.
Die patalogiedienste van die polisie het die liggaam na die lykshuis vervoer waar ‘n nadoodse ondersoek gedoen is.
‘n Forensiese ondersoek is gelas en die nodige vingerafdrukke geneem.
“Die rede vir die brand is onduidelik op dié stadium omdat op uitsluitsel van die polisie se hoofkantoor gewag word,” het hy ook gesê.
Boere Krisis Aksie het op hul Facebook-blad besonderhede van die voorval geplaas.
Volgens een van haar seuns, was sy ‘n welbekende, geliefde, nederige en barmhartige Samaritaan wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie.
Ook het sy nooit geskroom om ander te help nie.
Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag 8 Julie gesê die verskillende polisiestrukture is besig met hul verslae.
“Die nadoodse ondersoek en forensiese verslag maak deel uit van die ondersoek,” het brig. Hlathi gesê.
“Die verslae sal slegs aan die familie bekendgemaak word en is nie vir die openbare domein bedoel nie.”
Sy word oorleef deur vier kinders, Tienie, Christo, Matie en Riëtte, asook nege kleinkinders.



