Feesgangers daag in hulle hordes op by Val Boeredag
Die manne van Suid-Afrika se kosmandjie het deur die geploegde land gestap om noukeurig dop te hou wat vervaardigers beskikbaar op die mark gestel het.
Die plaat motors en vierwielaangedrewe voertuie het op Woensdag 3 Julie by die Val Boeredag die storie begin vertel van die landboudemonstrasiedag.
Ietwat moeilik om ‘n skatting te maak van hoeveel besoekers by die kaartjiekantore aangemeld het, maar dit was duidelik nie ‘n derderangse affêre nie.
Die Waterval Boerevereniging het vanjaar ‘n geslaagde byeenkoms aangebied waar die belange van boere vooropgestel is.
Dit wil nou nie sê dat die evasgeslag en jongklomp afgeskeep is terwyl ma en pa doen wat gedoen moes word nie.
Corlea Botha en Wicus van der Merwe was van die kunstenaars wat ‘n vertoning gelewer het, Pokkels The Clown het vir ‘n fotosessie gereedgestaan en ‘n rit op die treintjie, wat deur die mense gevleg het, het tot die feestelikheid bygedra.
Die agtergrond van dié dag is die geesteskind van mnr. Dick Kerslake, wat boere reeds in 1995 op hoogte van die nuutste plaastoerusting gebring het, asook die geleentheid geskep het om demonstrasies by te woon in omstandighede wat hulle eie toestande weerspieël.
Die manne van Suid-Afrika se kosmandjie het deur die geploegde land gestap om noukeurig dop te hou wat vervaardigers beskikbaar op die mark gestel het.
Uitstallers was ook nie links nie en feesgangers kon by hulle stalletjies aandoen in ‘n atmosfeer wat van ontspanne, maar doelgerigte beplanning getuig het.
Mnr. Frederik Weites, voorsitter van die vereniging, en mnr. Brett Gordon, ondervoorsitter, tesame met me. Elizna Griesel en me. Karen van der Linde, wat die administrasie behartig het, het sekergemaak dat alles vlot verloop.
Die toiletgeriewe, wat opgradeer is, het ook ‘n goeie indruk gelaat met skoonmakers wat toegesien het dat alles skoon en netjies was.
Die voorsitter het benadruk dat so ‘n dag onmoontlik kon plaasvind sonder die borge wat Afgri, die saadmaatskappye Pannar, DeKalb, Pioneer en Link Saad, asook Toyota ingesluit het.
Vir meer fotos volg hierdie skakel:
https://standertonadvertiser.co.za/94134/galery-besoekers-stroom-na-val-boeredag/



