Local sportNewsSchoolsSport

Marietha Cole is passievol oor kinders

Hoof van Laerskool Secunda is nie ’n vrou vir stilsit nie

SECUNDA – Opvoeding en onderwys is me. Marietha Cole, hoof van Laerskool Secunda, se passie.

Sy en haar man, mnr. John Cole, het op 29 Desember 1980, met al hul besittings op Charl Cilliers gestop.

“My eerste gedagte was, wat ‘n aaklige plek,” het me. Cole vertel.

“Met die verloop van die dag het my eerste indruk net erger geword.

“Dit was my eerste blik op Secunda en dit na die sprokiesmooi Oudshoorn en die groen en boomryke Kaap.”

Me. Cole het, toe die egpaar in hul eerste huis op Secunda intrek, besef dat daar nog baie trane gaan vloei.

“Min het ek egter toe geweet dat, na bykans 40 jaar, my trane sal verdubbel as ek eendag moet verhuis vanuit dié ongelooflike omgewing.”

Daar is net twee skole op Secunda waar me. Cole nog nie skoolgehou het, of betrokke was nie.

Sy was, gedurende haar bykans 40-jaar op Secunda, by twee skole op Evander ook betrokke. Sy het ook haar hand aan die verkoop van eiendomme gewaag en sy het al haar eie onderneming bedryf.

Me. Cole se dryfkrag en passie was nog altyd om kinders te motiveer om slegs hul beste te wees en te word.

“Dit is ‘n wonderwerk dat ek so naby aan my aftrede die pos as hoof by Laerskool Secunda gekry het,” het me. Cole gesê.

“Die Here het my die pad by al die skole asook my loopbaan buite die onderwys laat loop met ‘n doel.

“Ek het ‘n ongelooflike voorreg gehad om ondervinding met ‘n verskeidenheid van hoofde en personeellede te ontvang om my unieke vaardighede te ontwikkel en my voor te berei vir dié rol by Laerskool Secunda.

“Ek was in opleiding vir my einddoel, om ‘n skool te herstruktureer en op te bou tot die wenskool op Secunda.”

Me. Cole pak elke dag met geesdrif en passie aan en haar siening is dat dit tyd is om af te tree die oggend wat sy nie met ‘n huppel in haar stap skool toe kan gaan nie.

Een van me. Cole se groot doelwitte is om jong personeellede te mentor en ‘n impak op die onderwyskorps se ingesteldheid en werksetiek te hê.

In haar vrye tyd bestee sy graag tyd met haar vier kleinkinders wat al vier in Laerskool Secunda is.

Haar man het ‘n Harley Davidson motorfiets en me. Cole ry graag saam met hom, maar net kort afstande.

‘n Aanhaling wat haar altyd sal bybly, is deur C.S. Lewis en dit lui: “You are never too old to set another goal or to dream a new dream.”

Me. Marietha Cole skoffel graag in die tuin rond as sy die geleentheid kry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button