MunicipalNews

Govan Mbeki waterdruk met 20 % verlaag

Volgens Randwater se mediawoordvoerder, mnr. Justice Mohale het Randwater Govan Mbeki-streek se waterdruk met 20 % verlaag.

BETHAL – Bethallers is moedeloos oor voortdurende waterprobleme en die Govan Mbeki-munisipaliteit (GMM) se flou verskonings waarom inwoners nie water het nie.

Volgens Randwater se segsman, mnr. Justice Mohale, het Randwater die Govan Mbeki-munisipale gebied se waterdruk met 20 persent verlaag.

Dit is omdat die maandelikse tarief nie ten volle deur GMM vereffen word nie.

GMM is diep in die skuld by Randwater.

Mnr. Mohale het bevestig dat GMM op 8 Julie vanjaar meer as R255-miljoen skuld.

Op Ridge Times se Facebookbladsy het mense hul misnoë uitgespreek:

“GMM se verskonings is gebarste waterpype, maar die groot vraag is: het hulle die Randwater-rekening betaal? In Bethal betaal ons belasting en tariewe vir geen straatligte en slaggate.

“Ons betaal vir water, maar elke maand is ons vir dae, selfs weke, sonder water. Ons ondervind dieselfde probleme met elektrisiteit. Ons betaal vir vullisverwydering, maar geen diens word gelewer nie, omdat daar geen diesel vir die vragmotors is nie.

“Wanneer ons egter as GMM-kliënte dit waag om nie te betaal nie, word jou krag afgesny. Die nie-dienslewering na Bethal en sy inwoners vererger maandeliks weens die GMM-bestuur se onbekwaamheid.”

Me. Michelle Viljoen Rademeyer vir VF+ het inwoners weer genooi om op Saterdag 13 Julie by Bethaldam se woonwapark te gaan water haal.

Sy het op Facebook gesê dat die waterprobleem al vir sowat drie weke in sommige gebiede voortduur.

“Mense is raadop en moeg vir verskonings. Ons het vandag, 13 Julie by Bethaldam se woonwapark gaan water haal. Die sekuriteitsbeampte was baie benoud. Ons het hom verseker daar sal geen probleme wees nie en ons het toe in rus en vrede water getap met ‘n GMM-beampte teenwoordig.

“Oom Piet Dreyer het sommer sy hare ook gewas terwyl ons water getap het. Mnr. Chris la Cock het sy watertenk volgemaak om vir mense in sy omgewing water te neem.”

Volgens GMM sukkel hulle om die watertoevoer na die gebied te onderhou.

Verder noem hulle dat die stelsel nog nie heeltemal herstel is nie. Hulle is tans besig om waterlekke reg te maak en ondersoek blykbaar groot waterlekke.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/ridge-times/142624/jim-van-tonderskool-op-bethal-sluit-weens-waterprobleme/

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button