Local newsNews

Motorfietsryers dien wanvoorstellings ’n nekslag toe

Liefdadigheidswerk, wat ook dierewelsyn insluit, is baie hoog op die agenda vir mense wat dié leefstyl beoefen.

Minnesangers, troebadoere en ‘n popster of wat het al die vreugde besing van vryheid wanneer die wind deur jou hare waai en die Immortal Guardians van Standerton is geen uitsondering nie.

Met hul motorfietse staangemaak voor die Standerton Advertiser, het mnr. Eben du Toit, me. Chantel Erasmus en me. Idialene Harmse, die groentjie van die trio, die agtergrond van die gesinsgeörienteerde klub geskets.

Dadelik dink mens aan ander motorfietsklubs met Immortal Guardians wat onder die vyf grootste klubs in Suid-Afrika tel, ledetal sowat 700.

Strukture in hul klub sorg vir dissipline in die verskillende dorpe waar die enjins brul as die ooppad aangedurf word.

Die organisasie het portefeuljes soos president, vise-president, ‘first lady’, ‘sergeant-at arms’, ‘recovery sergeant’ en ook die ‘road captain’ met gemeenskaplike waardes soos respek en liefde wat die broederskap kenmerk.

Dit is geensins ongewoon om by enige vulstasie ‘n mede-ryer raak te loop en ‘n geselsie te kan aanknoop voordat iets geëet en gedrink word nie.

Liefdadigheidswerk, wat ook dierewelsyn insluit, is baie hoog op die agenda vir mense wat dié leefstyl beoefen.

Die klub het op Woensdag 10 Julie gehelp met ‘n werkswinkel by Kosmos Aftree-oord waar inwoners geleer is om handgemaakte popkleertjies te maak.

Eben op sy Hayabusa en Chantel en Idialene op hul Kawasaki’s het vinnig klaargespeel met die wanvoorstelling dat motorfietse sinoniem is met Sodom en Gomorra.

“Ons is gewone mense met ‘n gemeenskaplike belangstelling,” aldus die trio.

“Almal is welkom en of jy nou ‘n prokureur of boemelaar is, jy word nie geoordeel nie,” het Eben gesê.

“n Vreemdeling word ‘n vriend en ‘n vriend word dan familie,” het Chantel laat blyk.

Idialene het getrou aan die Immortal Guardians-tradisie nie veel gesê nie omdat sy in ‘n ses-maande-proeftydperk is om te kyk of sy gaan aanpas.

Haar baadjie het ook nie die ‘full patch’ van die seeleeu gehad nie wat dui op inisiëring in die klub.

Hul range is ook aangedui op die baadjies wat altyd aangetrek word as die teerpad roep, wat hul al by menige bestemming in die land uitgebring het.

Ook het hul geen ooghare vir boelies nie en negatiewe opmerkings van die publiek steek hul dwars in die krop.

Maak geen fout nie, daar is ‘n eie taal wat gebesig word en sou jy ‘n helmet agter op ‘n motorfiets langs die pad sien, is die boodskap duidelik.

‘n Motorfietsryer benodig hulp.

Eben is ook bereid om vir kindertjies te ‘wheelie’ en waai terug as die jongklomp hul grootoog betrag.

‘n Mens vra liewers nie teen watter spoed al ooit gery is nie en Standerton Advertiser het vir ‘n rit om die blok gegaan nadat plegtig belowe is dat daar nie te vinnig gery sou word nie.

“Jy vergeet van alles,” het Chantel afgesluit.

Eben het die laaste sê gehad: “Jy kan jouself wees.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button