Bethal gemeenskap gryp in tydens water krisis
Die dorp se gemeenskapspolisieëringsforum (Bethal GPF), AfriForum Bethal, Hinterland Bethal, Eco Tanks, boere in die omgewing en inwoners het saamgespan om verligting te bring. Ses opgaarhouers is geskenk wat in dele van die dorp, wat die minste tot geen water het, geplaas is. ’n Kraan wat aan die tenk gekoppel is gee inwoners toegang tot die water.
BETHAL – “Die munisipaliteit weerhou ons van die basiese mensereg om water te hê,” het ‘n inwoner op sosiale media kommentaar gelewer.
Inwoners is warm onder die kraag en sukkel om sonder water af te koel.
Die dorp se gemeenskap-polisieëringsforum (Bethal GPF), AfriForum Bethal, Hinterland Bethal, Eco Tanks, boere in die omgewing en inwoners het saamgespan om verligting te bring.
Mnr. Hennie Bekker, een van die dryfkragte agter dié projek, het vertel: “Terwyl ons nog besig was om krane aan die opgaarhouers te koppel, het ‘n seun en dogter in die straat afgestap gekom.
Een van hulle het opgewonde gesê, ‘Kyk! Die oom-hulle bring vir ons water’, maar op daardie stadium was daar nog nie water in die tenks nie. Die kinders het met hulle kannetjies gekom om water te kom haal en ek moes hulle sonder water huis toe stuur. Dit was vir my baie hartseer. Dit is dié klein dingetjies wat elke druppel die moeite werd maak.”
Ses opgaarhouers is geskenk wat in dele van die dorp, wat van die minste tot geen water het, geplaas is. ‘n Kraan wat aan die tenk gekoppel is, gee inwoners toegang tot die water. Een waterpunt by A.C. Kerk is tans in gebruik.
Boere en sakelui help om die tenks vol te hou.
“Ons is op soek na inwoners met boorgate wat bereid sal wees om van die tenks in hul erf te plaas. Die tenk sal dan met boorgatwater volgehou moet word,” het mnr. Bekker bygevoeg.
Sosiale media het behoorlik gegons met kommentaar oor die waterkrisis: “You say you supply water trucks, but yet you cannot confirm if it is suitable for human consumption.
Where do you source the water, Bethaldam? Residents from Bethal town should maybe distance themselves from GMM as we do not receive support from GMM.”
Jim van Tonderskool moes leerders huis toe stuur, omdat die koshuis en skool nie water gehad het nie. ‘n Anonieme bron het vertel dat wanneer die water terugkom, die druk nie hoog genoeg is om by die boonste vloer van die koshuis te kom nie.
Nog ‘n inwoner het gesê dat om vier weke sonder water te wees nou nie meer snaaks is nie.
“Twee kinders by die huis, hoe dan nou mmm? Wag vir ‘n watertrok wat nooit uitkom by ons nie. Meer geld op water bestee as ooit en dan lyk die rekening so erg, maar ons het nooit water nie! Nou hoe nou?”
Randwater het genoem dat die munisipaliteit verantwoordelik is om die gemeenskap van water te voorsien. Buiten lae waterdruk het een na die ander waterpyp die afgelope week gebars.
Water moes toegedraai word om die pype te kan herstel, wat veroorsaak dat die reservoir leeggeloop het.
Omdat die waterdruk so laag is, het die munisipaliteit gesukkel om die reservoir se vlak te stabiliseer.
Die onsekerheid van Bethal se waterprobleme dryf bykans almal teen die mure uit. In Bethal hoef jy nie te sukkel om kop bo water te hou nie, omdat daar nie water is nie.
As iemand bereid is om boorgatwater en staanplek vir ‘n tenk/s te gee, skakel mnr. Bekker by 084 905 6415.



