Die Standerton Advertiser het in ‘n kwessie van sowat vier maande, reeds 1 337 woorde neergepen oor water en rioolprobleme op Standerton en die jongste verwikkelinge is dat ‘n optog, onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, op Dinsdag 13 Augustus om 10vm by die kruising van Coligny- en Schwickardstraat beplan is.
Om ook publisiteit op die Facebook-blad van ‘SAVE the Vaal Environment’ te geniet, is ‘n twyfelagtige voorreg.

Rioolwater stroom nou direk in die Vaalriver in en AfriForum het die besoedeling van die Vaalrivier met onaanvaarbare hoë e-coli vlakke onder die aandag van inwoners gebring.
‘n Sukkelende Lekwa Munisipaliteit, die provinsiale Departement van Water en Sanitasie, die nasionale regering en AfriForum is rolspelers en die DA-raadslid van Wyk 10, is gevra oor dié party se betrokkenheid by die middedorp se probleme.
“Ek stem heelhartig saam dat dit onaanvaarbaar is,” het mnr. Rosier de Ville gesê.
“Ek meld daagliks probleme by die munisipaliteit aan waarvan sommige op ag geslaan word en ander nie, maar sal alles moontlik doen om te help om die situasie te beredder.”
Inwoners het vroeër vanjaar uit desperaatheid, hul griewe en foto’s op Facebook-bladsye gelaai en watervermorsing en rioolpypprobleme gaan hand aan hand.
Baie inwoners skakel einde ten laaste self ‘n loodgieter om probleme op te los wanneer hulle nie meer herwaarts of derwaarts weet nie.

Sommige inwoners het lankal watertenks en pompe laat installeer en ‘n betroubare bron het verwys na die netwerk wat oud is en pype, asook kleppe, wat die munisipaliteit lankal reeds moes opgradeer het, maar dat hul huidige finansiële verknorsing dit nie toelaat nie.
“Waterlekke oral op die dorp dra net verder by tot die watertekort, asook lae druk in die toevoerpype.”
Die koerant het op 11 Junie met mnr. Bronwen Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum se Hoëveldstreek, in gesprek getree oor hul betrokkenheid by die probleme.
Volgens mnr. Pretorius het sy voorganger, mnr. Hillel Coetzer, destyds ‘n saak by die Standerton Polisie aanhangig gemaak.
“As ons mense kry om te help, hetsy finansieel of andersins, kan ons iets doen,” het mnr. Pretorius gesê.
Die rol wat sosiale media speel met verwysing na aanmelding van riool- en waterlekke, kan nie onderskat word nie.
‘n WhatsApp-groep oor water- en rioolprobleme, sowel as ‘n ‘omgee en veiligheid’-groep, wat deur ‘n inwoner, me. Wilma Venter, gestig is, het momentum begin kry.
Volgens me. Venter sal die lys van water- en rioolprobleme, verkeersligte wat nie werk nie en slaggate op 13 Augustus aan me. Mapaseka Molaba, raadslid van Wyk 3 en lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, oorhandig word.
“Slaggate is hoofsaaklik die oorsaak van waterlekke en rioolpype wat oorstroom,” het me. Venter gesê.




