
BETHAL – Ridge Times het reeds in 2014 oor riool wat in Louis Trichardt- en Percy de Kokstraat vloei, berig.
Govan Mbeki Munisipaliteit (GMM) is weer in 2015, 2017, 2018 en ook vanjaar vir kommentaar genader oor riool wat in die Blesbokspruit inloop, ander dele op dié dorp en ook in eMzinoni.
Soos elke keer vantevore het GMM geen antwoorde nie, terwyl e-posse en selfs WhatsApp-boodskappe geïgnoreer word.
WhatsApp-boodskappe word gelees, maar geen antwoord word ontvang nie.
Inwoners is ontstoke oor die riool wat wéér, of liewer nog steeds, in Louis Trichardt- en Percy de Kokstraat vloei.
Volgens ‘n inwoner is dit al langer as twee jaar.
“Ons kan die stank net nie meer hanteer nie. Riool vloei in die straat af, in die spruit in en ons sit met die stank en onhigiëniese toestande. Die munisipaliteit lyk my gee net nie meer om nie,” het ‘n inwoner gekla.
Blykbaar is die pompstasie by Markstraatrioolwerke buite werking.

Riool is in 2017 van die spesifieke pompstasie na die Blesbokspruit gekanaliseer.
Op lugfoto’s kan dit duidelik gesien word hoe riool die spruit besoedel.

Die heldergroen en liggroen water op die foto’s wys waar riool reeds water besmet het en waar dit steeds invloei.
Skrikwekkende lugfoto’s van die Vaaldam wys hoe dié dam reeds moontlik met onder andere, riool, besmet is.
Selfs AfriForum het in 2016, terwyl die pomstasie weer buite werking was, ‘n brief aan GMM oorhandig.
Nóg ‘n brief is in 2017 aan hulle oorhandig.

Artikel 24 van die Grondwet bepaal dat alle Suid-Afrikaanse burgers die reg op ‘n omgewing het wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie.
Wanneer jy Blesbospruit se vloei volg, sien jy dat dié spruit in die Vaalrivier inloop wat natuurlik in die Vaaldam eindig.
Waar kry jy jou drinkwater vandaan?
Van dié einste Vaaldam wat moontlik met riool van die Blesbokspruit en elders besoedel is.
Die munisipaliteit is onder andere gevra:
– Waarom die riool in Louis Trichardt- en Percy de Kokstraat al vir so lank vloei?
– Wanneer GMM aandag daaraan sal gee?
– Waarom is die rioolprobleem steeds nie opgelos nie?
GMM het weer eens geen antwoord gegee waarom so baie riool in Blesbokspruit inloop nie.
Hulle kon ook nie sê waarom riool in eMzinoni en in die velde rondom en binne die dorp opdam nie.
Hoe sal die skade herstel kan word, wat is die plan en is daar ‘n plan?





