MunicipalNews

Rioolprobleme beïnvloed Bethal-ondernemings

Verskeie besigheidseienaars het oor riool wat voor en langs hul besighede verby vloei gekla. In die vrae wat onderandere aan Govan Mbeki Munisipaliteit vir kommentaar gerig is, vra Ridge Times wat hul plan met die voortdurende riool probleme is?

BETHAL – Verskeie sakelui het die laaste ruk oor riool wat voor en langs hul ondernemings verbyvloei, gekla.

“Ons kliënte kla en baie van hulle het erken dat hulle nie meer na ons winkel toe wil kom nie omdat dit so stink,” het een van hulle gesê.

‘n Ander onderneming het egter groter probleme.

Riool stroom voor hul deur verby en mense moet daardeur loop en ry.

Aan die eenkant van die gebou, word daar gereeld sakke vol rommel gegooi en daar is selfs al beeste geslag.

‘n Oop mangat aan die voorkant van die gebou is ‘n ander bekommernis.

Iets wat soos swembadsuur lyk, is hier gestrooi om die reuk moontlik uit te skakel.

“Ons het die rioolprobleem al meer as een keer by die munisipaliteit aangemeld. Hulle het net niks daaraan gedoen nie. Eers nadat ons iemand anders geskakel het, is ‘n vragmotor gestuur om die gemors uit te suig. Hier was al ‘n gesondheidsinspekteur ook.”

Nadat die munisipaliteit riool kom uitsuig het, het die eienaars self gereël dat die voorkant van hul werkswinkel skoongemaak word.

Oor naweke word daar naby dié onderneming gedrink en gekuier.

Maandagoggende wanneer hulle die winkel wil oopsluit, is daar ontlasting op die trappie.

Gebruikte kondome lê oral die gebou se dak het al begin vlam vat waar ‘n vuur in die hoek gemaak was.

Nóg ‘n sakeman het herhaaldelik gekla oor riool wat langs hul gebou vloei.

“Dié probleem is al vir jare ‘n groot kopseer. Ons kan dit net nie meer uithou nie, maar wat kan jy doen?”

‘n Vorige keer moes die mense maar net wag tot dit reën sodat die riool kan wegspoel. Die riool, en nou ook rommel, vloei direk in die Blesbokspruit.

Na herhaaldelike klagtes, het iemand van die munisipaliteit blykbaar opgedaag, maar moontlik net iets wat soos swembadsuur lyk, langs die riool gestrooi.

Dit was nie juis doeltreffend nie omdat die stank steeds ondraaglik is en die riool nog op dieselfde plek is.

In die vrae wat aan Govan Mbeki Munisipaliteit vir kommentaar gerig is, het Ridge Times gevra wat hul plan met die voortdurende rioolprobleme is?

Geen antwoord is ontvang nie.

Die munisipaliteit het ook nie kommentaar gelewer op ‘n vraag waar die riool vandaan kom nie.

Een van die mangate in Moses Kotanestraat waar riool opgedruk het en voor ’n onderneming se werkswinkel gevloei het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button