HOëVELD – AfriForum het onlangs verskeie dorpe in Mpumalanga se water getoets om die gehalte van dorpe in dié streek se drinkwater (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal.
Dié burgerregte-organisasie se se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte.
Dié projek fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word.
Lede van die takke op Bethal, Secunda en Evander het ook van die drinkwater en rioolwater in die Govan Mbeki Munisipaliteit monsters geneem en getoets.
“Ons kon vasstel dat die drinkwater van bykans al die dorpe waarvan die drinkwater getoets is, aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterie bevat nie.
AfriForum sal die watergehalte egter deurlopend toets. Inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” het mnr Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld verlede week in ’n persverklaring gesê.
Die kommer lê egter by die groendruppelresultate, waar agt rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is, nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde voldoen nie.
Volgens dié uitslae maak Bethal, Evander en Secunda se rioolwerke deel uit van dié agt aanlegte wat te kort skiet.

’n Telling van meer as 1000 eenhede E.coli per 100ml is by dié gebiede gevind.
Mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, het gesê die organisasie is bekommerd oor rioolsuiweringsaanlegte waarvan die rioolwater nie aan die gestelde standaarde voldoen nie.
“Ons sal die nienakoming verder ondersoek en optree waar nodig.”
Inwoners wat wil sien dat AfriForum Mpumalanga se water voortdurend toets, kan ’n SMS met die woorde “Skoon water” na 45350 (R1) stuur.
Mnr. David Mahlobo, Adjunk-minister van Water en Sanitasie, het op 13 September ook met sy nuut-gestigde teenbesoedeling-taakspan vergader om die span se verantwoordelikhede en funksies te bespreek.
Mnr. Sputnik Ratau, die department se woordvoerder, het gesê September is die maand waarin die DWS die wet gaan afdwing.
Die taakspan kon nie op ’n meer gepaste tyd gestig word nie,” het hy gesê.
Die publiek in verskeie dele van die land, voel dat die DWS nie genoeg doen om die waterbesoedeling te beperk nie.
Volgens mnr. Ratau sal die taakspan onder meer ’n watergehaltebepaling deur die land moet doen, toenemende gevalle van waterbesoedeling ondersoek, beter dienste moet lewer terwyl die omgewing en waterbronne beskerm word.



