Bethal: Van prag dorp na ‘rommelstatus’
Wanneer jy die dorp binnekom lê rommel oral gestrooi en vullissakke vol rommel staan rond. Agter besighede, langs Blesbokspruit in ’n veld langs Malherbestraat, in ’n veld naby die dam en selfs die strate is met rommel betrooi. Die gemaanskap wil weet wie hiervoor te blameer is?
BETHAL – Wanneer ‘n mens Bethal binnery, lê rommel oral gestrooi en vullissakke vol rommel staan rond.
Agter besighede, langs Blesbokspruit in ‘n veld langs Malherbestraat, in ‘n veld naby die dam en selfs die strate is met rommel bestrooi.
Die gemeenskap wil weet wie hiervoor blameer moet word.

“Begin dit by die munisipaliteit wat nie die stortingsterrein onderhou en op standaard hou nie, of is dit bloot die toedoen van die gemeenskap wat nie oor die natuur en higiëne van sy eie en dié van sy medemens omgee nie?” het ‘n inwoner gevra.
Verskeie inwoners en sakelui het by Ridge Times aangeklop met klagtes oor die stortingsterrein en ook oor rommel wat die dorp vol lê.
‘n Bethaller is van mening dat die rommelprobleem groter geword het omdat die stortingsterrein, volgens haar, ontoeganklik is.
‘n Ander inwoner het weer genoem dat sy ma gereeld na die stortingsterrein gegaan het.


“My ma kan nou nie meer alleen asgate toe gaan nie. Dit is net té gevaarlik. Elke keer dat ek daar was, het ek ‘n papwiel gekry. Die pad is onbereikbaar en jy kan ook nie ry tot waar jy jou vullis moet af aflaai nie,” het ‘n man vertel.
‘n Oudit op verskeie stortingsterreine in Suid-Afrika is onlangs deur AfriForum gedoen en Bethal het slegs 10 persent gehaal.
‘n Stortingsterrein moet minstens 80 persent haal.
Nog ‘n inwoner, me. Martie Beukes, het gesê dat hulle met dienslewering in North Avenue sukkel.
“Dit is darem nie almal in Bethal nie, maar kom kyk gerus hoe lyk dit hier bo by ons. Ons het ‘n nagloper wat al die sakke oor die pad dra en oopskeer en die gemors rondstrooi.”

Buiten dié nagloper, sukkel hulle ook met ‘n rotteplaag, moontlik weens die vullissakke wat daar uitgegooi word.
Mnr. Lucky Mhlongo van Govan Mbeki Munisipaliteit (GMM) het gesê dat die toestand van dorpe se omgewing, van die gesindheid en gedrag van die gemeenskap afhanklik is.
“Dit sal slegs verander sodra almal hul verantwoordelikheid teenoor die omgewing, die gemeenskap en homself besef. Die gemeenskap kan op die volgende wyse van groot hulp wees.
“Wanneer iemand ‘n persoon sien wat onwettig in ‘n oop of openbare ruimte vullis stort, moet hulle probeer om ‘n foto te neem waar die motor se nommerplaat sigbaar is. ‘n
Video sal ook baie help. “Wetstoepassers kan nie altyd teenwoordig wees nie en dit help baie wanneer die gemeenskap ons oë en ore is.”
Die wetstoepassingseenheid van die munisipaliteit kan geskakel word by 017 620 6335 of klagtes via die oproepsentrum by 080 060 0001/2/4 aanmeld.
GMM het nie kommentaar oor die stortingsterrein gelewer nie, en ook nie genoem wat hul plan van aksie is om hordes vullis wat reeds oral lê op te ruim nie.




