Vang vis en help ’n kankerlyer
Hengelspanne kan reeds om 6vm registreer en pen trek. Die hengel sal amptelik om 8vm begin en kan daar tot omstreeks 4nm visgevang word.
SECUNDA – Die Lekker Sosiale Hengelklub hou volgende naweek ’n hengelkompetisie om geld vir Marnu Prinsloo (5), ’n leukemie-lyer wat tans in remissie is, te help.
Volgens Marnu se ouers, mnr. Pieter en me. Annezell Prinsloo, het hy nog sowat 10 maande oor van chemoterapie-sessies om te verseker dat sy bloedkankertelling binne perke is.
“Marnu moet nog een keer per maand hospitaal toe gaan. Hy moet ook so gou moontlik by ’n oor-, neus- en keelspesialis uitkom,” het me. Prinsloo gesê.
Die hengelklub, waarvan mnr. Prinsloo ’n lid is, beoog reeds lankal om ’n pa-en-kind-hengelnaweek aan te bied en die geld wat daarmee ingesamel word, aan ’n liefdadigheid te skenk.
Ná Ridge Times onlangs ’n berig oor Marnu gepubliseer het, het die klub besluit om die opbrengste van hul eerste kompetisie aan die Pretorius-gesin te skenk.
Die kompetisie is oop vir enige ouer of grootouer en kind tot op die ouderdom van graad 7.
Dit word op 12 en 13 Oktober by die Trichardtsfonteindamontspanningsoord, aan die publieke kant, plaas.
Hengelspanne kan reeds om 6vm registreer en pen trek. Die hengel sal amptelik om 8vm begin en kan daar tot omstreeks 4nm visgevang word.
Hierna sal daar saam gekuier en gebraai word om ook sosiaal te verkeer voordat die hengelaars verder kan hengel tot omstreeks 10vm die volgende dag.
Die inweeg vind om 11.30vm op die Sondag plaas.
Volgens die organiseerders is daar heerlike pryse op die spel vir die kind met die grootste karp, die ouer met die grootste karp en die ouer-en-kindspan met die swaarste sak vis.
Inskrywings kos R250 per pen, met twee hengelaars per pen.
Daar is slegs 100 penne beskikbaar.
Vir meer inligting of om in te skryf, skakel vir Adri Engels by 082 306 6361, Ena van Coller by 082 773 0709 of Johan Viljoen by 076 688 6817.

Lees ook:
https://www.citizen.co.za/ridge-times/145538/klein-marnu-5-bykans-klaar-met-chemo-behandeling/



