Lekwa Brandbestuurvereniging druk besig met beplanning vir volgende jaar
Die DA-koukusleier, mnr, Rosier de Ville, het ook aangedui dat die kwessie by ’n raadsvergadering bespreek is en dat die raad ’n voorlopige besluit geneem het om voertuie te huur tot tyd en wyl die nasionale tesourie geld beskikbaar stel.
Die Standerton Advertiser het op die voorblad van sowel sy 1 November as 8 November uitgawe berig oor brande, wat onderskeidelik op ‘n plaas en die afgelope jaar plaasgevind het, met die rol van die Standerton Brandweer wat toegelig is.
Lewensverlies is gely op die plaas en die omvang van skade tydens brande moet in sekere gevalle nog bepaal word.
Nog ‘n rolspeler, die Lekwa Brandbestuursvereniging, se dagbestuursvergadering in Oktober by Appledew Gastehuis het meer feite aan die lig gebring.
Volgens Wet 101 mag net die brandweer vure beveg wat op die dorp ontstaan en die vereniging kan toerusting gee om te help.
AfriForum het onlangs gehelp om ‘n vuur te blus in Kosmospark, maar mag nie sonder die toestemming van die brandweerhoof, mnr. John Kock, op ‘n dak klim en beheer neem nie.
Die brandweer het nie tydens die brand opgedaag nie.
Die koerant het navraag by die kommunikasiebestuurder van die Lekwa Munisipaliteit, me. Thobeka Mtshiselwa, gedoen oor die brandweer se afwesigheid, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.
Dit is daarna bevestig dat die brandweer op Standerton geen voertuie beskikbaar het om in noodsituasies te help nie.
Die DA-koukusleier, mnr. Rosier de Ville, het ook aangedui dat die kwessie by ‘n raadsvergadering bespreek is.
Volgens hom het die raad ‘n voorlopige besluit geneem het om voertuie te huur tot tyd en wyl die nasionale tesourie geld beskikbaar stel.
Die vereniging op Standerton het ernstige beplanning vir volgende jaar vir voorkoming van skade in die Morgenzon-omgewing op die spits gedryf.
Volgens die statistieke vir September wat aan die vergadering beskikbaar gestel is, is 31 brande aangemeld wat oor 3 676 hektaar gestrek het.
Mnr. Louis Kotze, bestuurder van die vereniging, het mnr. Kock versoek om ondersoek na die brand by Cathy in te stel en melding is gemaak van die krag wat huurders met kabels aangelê het, wat nie aan wetlike regulasies voldoen nie.
Mnr. Kock het onderneem om ‘n verslag in te dien, maar mnr. Kotze het bevraagteken waarom die protokol vir ‘n ondersoek behels dat ‘n brief eers aan die munisipale bestuurder gerig moet word, alvorens ‘n ondersoek geloods word.
Lekwa Brandweer het op 4 Oktober by ‘n brand in die Platrand-omgewing opgedaag en ‘n persoon agter op die voertuig het, na bewering, almal verskree en opdragte gegee.
Die rol wat die brandweer moet speel, vergeleke met dié van die grondeienaar, ten opsigte van opdragte gee, is onder die loep geneem.
Die vergadering was van mening dat die voorsitter van die vereniging, mnr. Lappies Labuschagne, magtiging gegee moet word om namens mnr. Kock te delegeer in plaasgebiede en nie die dorpsgebied nie.
Hulle het mnr. Kock versoek om ‘n skrywe te rig met sodanige magtiging en indien dit nie realiseer nie, sal die saak met die relevante minister opgeneem word.
Die kommunikasieprobleem in tye van elektrisiteitsonderbrekings was onder bespreking en mnr. Jannie Kasselman van Kasselman Veiligheidsdienste het aangebied dat die tweerigting-radio, wat hy by die brandweer geïnstalleer het, gebruik kan word.
Die radio is klaarblyklik inmiddels verwyder en mnr. Kasselman sou ondersoek instel.




