‘n Bekommerde inwoner van Morgenzon het einde Janaurie foto’s geneem van ‘n slaggat by die kruising van De Jager- en Steynstraat, waar verskeie voertuie al deur die gat gery het, met gepaardgaande skade.
Volgens dié inwoner, is die gat sowat ‘n halfmeter diep.
“As ‘n mens in die gat gestaan het, was jy kniediep daarin,” het hy gesê.
Volgens hom, is die Lekwa Munisipaliteit verskeie male geskakel, maar geen oproep is beantwoord nie.
Die munispaliteit het op Dinsdag 28 Januarie die gat met gruis toegegooi, maar na drie dae het ‘n slaggat reeds begin vorm.
Vragmotorbestuurders vanaf Bethal in die rigting van Amersfoort is, na bewering, die groot sondebokke.
Die Standerton Advertiser het verlede jaar omvattend berig oor vragmotors wat ‘n spoor van verwoesting op Morgenzon agterna laat met slaggate van swembadgrootte as die gemeenskap se erfporsie.
Dié inwoner is nie die enigste een wat al die koerant genader het nie.
Vragmotors se roetes sluit klaarblyklik ook woongebiede in wat inwoners die harnas injaag met geraas- en stofbesoedeling op die koop toe.
Die koerant het ook destyds met mnr. Tom Joubert, ‘n bestuurder van ‘n vervoermaatskappy, in verbinding getree wat sy perspektief oor die probleem gestel het.
Volgens hom, moet die brandstofheffing en lisensiegeld vir vragmotors aangewend word om paaie te onderhou.
Me. Thobeka Mtshiselwa, kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit, het gesê dat Sanral en die provinsiale Departement van Paaie en Vervoer vir onderhoud op die pad verantwoordelik is.




