Ma bid vir jare vir haar seun om vry te kom van dwelms
“In Psalm 107:10-20 het ek sy lewe gesien, dit was hy, elke woord wat daar gestaan het, was op sy lewe van toepassing. Ek het begin vashou aan die belofte dat die Here my kind met een woord kon gesond maak.”
Mnr. Louw de Beer (junior), beter bekend as Louwie onder sy vriende en familie, het ná jare van dwelmverslawing, uiteindelik vrygekom en werk nou voltyds vir die Here.
Sy ma, me. Stan de Beer, het gesê mnr. De Beer (junior) het in ’n gelukkige huis grootgeword en hoewel sy en haar man, mnr. Louw de Beer (senior), streng reëls gehad het oor na watter musiek hul vier kinders mag geluister het en watter boeke hulle mag gelees het, was daar baie lag en prêt in hul huis.
Volgens me. De Beer was haar seun ’n normale, gesonde, besige seuntjie soos enige seuntjie van sy ouderdom.
“Hy was ‘n vrolike en liefdevolle kind wat altyd almal in die huis vermaak het,” het sy gesê.
“Daarby was hy baie gewild, netjies, musikaal, kreatief en kon pragtige sketse maak.
“Hy het goed op skool gevaar, maar soos alle seuntjies, was hy ook nie ‘n engeltjie nie en daarom het baie onhebbelike stoutighede ook deel van sy lewe geword.”
Sy ouers het hom dan gestraf waar dit nodig was.
“In daardie jare was rook en dwelms nie so oop en bloot soos vandag nie en ons het sulke goed net in flieks gesien.
“Louwie was homself, ek het eers heelwat later agtergekom dwelmgebruikers is meesters in manipulasie, jok en om dinge weg te steek.” Me. De Beer het nooit in haar wildste drome kon dink dat haar seun by dwelms betrokke sou raak nie.
Toe die gesin nog op Hartswater gewoon het, het die hele gesin met sinusverkoues, allergieë en asma gesukkel omdat mnr. De Beer (senior) vir ’n onderneming gewerk het wat groente verwerk het waarop gif gespuit is.
Hul huisdokter het dus gereeld Sinutab met kodeïen voorgeskryf.
Mnr. De Beer (junior) was agt jaar oud toe die gesin vanaf Hartswater na Secunda verhuis het.
Dit het beter met die gesin se gesondheid gegaan op Secunda, maar mnr. De Beer (junior) het gesukkel met asma en erge sinusverkoues.
Me. De Beer het nie agtergekom dat Louwie op die ouderdom van 12 reeds begin rook het nie, en nog minder dat hy ‘n dwemverslaafde was nie.
Toe hy in gr. 9 was, het me. De Beer begin agterkom hy is nie meer so ‘n netjiese seun nie en sy skoolwerk het agteruit begin gaan.
“Sy oop verhouding met my was nie meer daar nie,” het sy gesê.
“Dit het geleidelik slegter gegaan en ek het geweet iets is radikaal verkeerd, maar ek kon nie my vinger daarop lê nie.
“Ek het toe maar net begin bid dat die Here my sal wys wat in Louwie se hart aangaan, of wat ek verkeerd doen.”
Me. De Beer was geskok toe sy op ‘n dag wat hy veronderstel was om by die huis te bly weens erge sinusgriep, tuisgekom het en gevind het dat Louwie sommer agt pynpille gedrink het en toe wel skool toe gegaan het.
“Ek het hom daaroor gekonfronteer en hy het gesê as twee pille hom beter laat voel, sal ses of agt dit gouer doen.
“My hart het byna gaan staan.”
In dié tyd het mnr. De Beer (junior) se vriendekring drasties verander en me. De Beer kon nie met trane, dreigemente, deur te smeek of woede tot hom deurdring nie.

Mnr. De Beer junior het met ’n meisie begin uitgaan en sy ouers het haar gewaarsku teen hom, maar sy het geglo sy kon hom help.
“Hy het een aand by die huis gekom nadat hy in Witbank was en gesê hy wil met my praat,” het me. De Beer gesê.
“Hy het my toe vertel dat hy al vir sewe jaar aan kodeïen verslaaf was en by ’n ondersteuningsgroep in Witbank was.
“Ek kon dit nie glo nie.
“Dit het gevoel of iemand my met ’n vuishou in my maag geslaan het.
“Ek het op die bed gaan sit en gevra: ‘Here hoe is dit moontlik, hoe kon ek die tekens so miskyk, wat doen ek nou en hoe help ek hom?’.
“My vrolike huppelkind wat toe hy klein was, sy arms om my nek sou slaan en my ’n nat soen gee, het voor my oë in ’n totaal rebelse, apatiese en onherkenbare persoonlikheid verander, ’n vreemdeling wat my bangmaak.”
Me. De Beer het die Here gevra om haar en haar gesin vas te hou en voor te berei op wat sou voorlê.
Mnr. De Beer (junior) se familie het besluit om hom by te staan en om alles in hul vermoeë te doen om hom te help.
“Min het ons toe geweet deur watter hel ons sou gaan en hoeveel opofferings ons sou moes maak,” het me. De Beer gesê.
Mnr. De Beer (junior) is toe met die meisie wat hy destyds gehad het, getroud ten spyte van baie teenkanting. Die egpaar se dogtertjie is twee jaar later gebore.
Ná hul troue het 23 jaar, agt rehabilitasie-sentrums en 14 verhuising waar hulle oor moes begin, gevolg.
Me. De Beer en haar man het die egpaar met elke verhuising gehelp en hulle ondersteun.
Me. De Beer onthou al die gemengde emosies van blydskap, vertroue, bitter teleurstelling en magtelose trane elke keer wat Louwie in ’n rehabilitasie-sentrum was net om uit te kom en weer te begin om dwelms te gebruik.
“Dat hy nie al dood is nie, is ’n wonderwerk op sy eie,” het me. De Beer gesê.
“Ek onthou toe ons hom Noupoort toe gestuur het, het hy die aand voor hy weg is oor my wasbak in die badkamer koppies vol bloed opgegooi.
“Maar die Here het eenvoudig geweier dat Satan my kind se lewe vat.
“My hart het baie kere gevoel asof iemand hom met ’n rasper bygekom het en toe met ’n hamer platgeslaan het, want dit maak nie saak wat jou kind doen nie, hy bly jou kind.”

Me. De Beer se ander seuns het vir haar gesê hulle kan dit nie meer hanteer om hul broer so te sien nie en wil hom eerder groet en hom nie meer sien nie.
“My ander seuns se kinders kon nie verstaan hoekom Jesus dan nie vir Louwie help nie, hulle wou hul gunsteling-oom terughê.
“My gesin was verpletter, my man het nie meer gepraat nie en my hele familie was stom, want niemand van ons het so iets geken nie.
“Almal het maar net saam gehuil, saam gebid en saam vir Louwie liefgehad.”
Me. De Beer onthou die vrees wat haar beetgepak het as sy nie geweet het waar haar seun was nie en die angs vir tyding dat hy in die tronk of dood is.
“Ek het dag en nag voor die Here vir my kind se lewe gesmeek.
“In Psalm 107:10-20 het ek sy lewe gesien, dit was hy, elke woord wat daar gestaan het, was op sy lewe van toepassing.
“Ek het begin vashou aan die belofte dat die Here my kind met een woord kon gesond maak.”
Louwie se vrou het hom ná 15 jaar verlaat en sy dogter, wat altyd vir hom geskerm het, saam geneem. Sy wou hom naderhand ook nie meer sien nie.
Me. De Beer onthou by haar dogter se troue in 2011 hoe Louwie soos ’n lopende lyk gelyk het.
“Familie en vriende was sprakeloos toe hulle gesien het hoe sleg hy gelyk het.
“Daar was niks van my kind oor nie.”
Die omkeer in mnr. De Beer (junior) se lewe het uiteindelik gekom toe hy self begin besef het sy liggaam sal nie meer langer die uitwerking van al die verskillende dwelms wat hy deur die jare gebruik het, kan hanteer nie.
Hy het in Sunnyside gewoon en het niemand of niks gehad nie behalwe die Here.
“Net soos in Psalm 107 het my seun uitgeroep na die Here en Hy het hom verlos,” het me. De Beer gesê.
Sy onthou hoe sy saans biddend, met haar seun se naam op haar lippe aan die slaap geraak het en soggens weer so wakker geword het.
“Ek het voor die Here gepleit vir sy lewe, want ek het gedink daar is so baie dinge wat hy kon oorkom.
“Hy kon vermoor word, selfmoord pleeg, ’n oordosis dwelms neem, in die tronk beland.
“Daar het nie ’n minuut van die dag verby gegaan wat ek nie vir hom gebid het nie.”
Die Here het me. De Beer gereeld in die nag wakker gemaak en vir haar gesê om vir haar seun te bid.
“Dan het ek gebid hoewel ek nie geweet het waarvoor en vir wat nie, maar ek het gebid.
“Ek het my brood met my trane geëet en geweier om te slaap as ek onrustig oor my seun was.”
Me. De Beer het eers jare later, nadat mnr. De Beer junior haar vertel het in watter omstandighede hy verkeer het, besef hoekom sy so vir haar kind moes bid.
“Hy het in ’n hool gebly tussen die ergste midadigers, tussen dwelmbase vir wie menselewens niks beteken het nie.
“Hulle het hom een aand met ’n stuk staal in sy arm gesteek, op ’n ander keer het hulle hom so erg aangerand dat hy bewusteloos en met ’n skedelfraktuur vir dood in ’n staal asblik na ’n bakleiery oor dwelms en geld gelos is.
“Hy is beroof, aangerand en meer as een keer uit bewegende motors gegooi, geslaan en verniel.
“Net die Here het hom aan die lewe gehou, en ek het net aanhou bid.”
Me. De Beer het in November 2011 ingegee en besef sy en haar gesin kan meer so aangaan nie.
“Ek het op 18 November 2011 geknak voor die Here en Hom gesmeek om my kind se siel te red, hom genadig te wees en hom te vat dat ek hom kan begrawe, ek het gebid dat my kind moet doodgaan want die hel waardeur hy gegaan het, was net te veel.
“Daardie dag het die Here vir my gesê: ‘Ek gaan hom met een woord gesond maak en vir jou teruggee, want Ek is nog nie klaar met hom nie’.”
Me. De Beer het onthou wat in Johannes 11:40 staan wat lui: ‘Het Ek nie ook vir jou gesê, as jy kan glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?’ asook in Jesaja 65:24 wat lui: ‘Voordat jy roep, het ek al gehoor, terwyl jy nog gebid het, het Ek jou alreeds verhoor.’
“En ek het geglo, want in my gees het God hom vir my gewys, blakend gesond en gelukkig.”
In ’n oogwink is al me. De Beer se angs, vrees, bekommernisse en spanning weggeneem en sy het vrede soos nog nooit tevore in haar lewe nie, ervaar.
Dit was egter eers twee jaar later, in September 2013 wat al me. De Beer se gebede van 23 jaar beantwoord is.
Louwie het sy ma in September 2013 geskakel en gesê ’n man in die Vrystaat het gevra dat Louwie hom moet gaan help om ‘n webwerf vir ‘n rehabilitasie-sentrum te ontwerp.
Mnr. De Beer (junior) is na die Jericho Recovery Centre net buite Fouriesburg geneem waar hy vir drie jaar gewoon het, die Here gevind het en weer heel geword het.
Me. De Beer moes later hoor die man wat haar seun geskakel het, wyle mnr. Dereck Cromhout, was eintlik oppad dorp toe en wou iemand anders skakel, maar het deur ’n knik in die pad gegaan, die verkeerde knoppie op sy selfoon gedruk en by Louwie uitgekom.
Mnr. Cromhout het ervaar hoe die Here vir hom gesê het hy moet vir Louwie gaan haal, plaas toe neem en hom help.
“Dit was beslis nie toeval nie, dit was ‘n beantwoorde gebed,” het me. De Beer gesê.
Mnr. De Beer (junior) is in 2017 weer getroud en werk tans voltyds by ’n rehabilitasie-sentrum waar hy ander dwelmverslaafdes help en ’n pastoor en pastorale berader is.




