JC Schoeman hou gemaklik die teiken in die visier
JC neem deel aan die onderskeie skietkompetisies van ghongskiet, takskiet, streekskiet tot by die grote, die SA’s in Bloemfontein.
JC Schoeman van Standerton se rustige benadering tydens ’n onderhoud, verklap nie veel van sy administratiewe vaardighede, leierskap en mededingendheid op die sportveld nie.
Dié voorsitter van die Edelvalk-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) het die rol wat hy speel, soos volg verwoord:
“Ek is net die spreekbuis van die komitee,” het JC gesê.
“Daar is ’n baie goeie span wat my help.”
Hy is die trotse besitter van 12 gewere en sal op sy pos op die skietbaan wees wanneer skuts aanlê na die tabelle om, benewens diegene wat sosiaal meeding, hulle plekke in die SAJWV se register te laat aanteken.
As kind het hy met sy pa se 308 en ’n .22 reeds kennisgemaak met dié sport wat allerweë skuts nooi om hul vaardighede op die proef te stel.
JC neem deel aan die onderskeie skietkompetisies van ghongskiet, takskiet, streekskiet tot by die grote, die SA’s in Bloemfontein.
“’n Mens moet ’n passie daarvoor hê, ” het hy beken.
Hy het ’n pluimpie toegeswaai aan die Edelvalkers wie se oefeningsetiek en vasberadenheid duidelik teen ander skuts na vore kom.
“Ek hoor soms dat ander skuts sê dat hulle nie teen ons kan meeding nie,” het hy tong-in-die-kies bygevoeg.
Daardie gholflegende van Suid-Afrika, Gary Player, se befaamde woorde het hy duidelik sy eie gemaak.
“The more I practice, the luckier I get.”
Dit is weliswaar ’n duur sport wat opoffering, tyd en geld, vereis en JC het vir drie jaar by groeperingskiet met die louere weggestap.
“Dit was seker omdat die eerste prys ’n skaap was.”
Voorts is mededinging straf en die standaard hoog.
Die Evert Genis-skietbaan is opgedollie met braaigeriewe, ’n afdak en die toilette opgradeer.
“Ons probeer om die vroue en die jeug ook betrokke te kry,” het JC laat blyk.
Die Schoemans sal nie nee sê vir ’n wegbreek na die Kruger Wildtuin nie en as die beursie dit toelaat, is een familiejag per jaar op hul agenda.
JC waag ook sy hand aan ‘cerakoting’ waartydens gewere na ’n skut se individuele smaak, met kleur, geaksentueer word.
Dié sakeman, wat sy eie onderneming bedryf, het die geduld en deursettingsvermoë om moontlik die hoogste sport in die SAJWV te bereik.





