Inwoner van Standerton raadop met rioolvuil wat huisfondasies laat kraak
Me. Brits het aangedui dat sy al langer as ’n jaar sukkel met riool wat oorloop in hul erf.

Me. Mari-Louise Brits van Vrystraat het einde ten laaste met die Standerton Advertiser in verbinding getree oor riool wat in hul erf oorloop.
Me. Brits het reeds twee verwysingsnommers van die Lekwa Munisipaliteit bekom, naamlik 113852 en 53784, nadat die situasie dit genoodsaak het. Sy het ook ’n petisie opgestel wat volgens haar, deur 250 mense in minder as ses ure onderteken is.
Die Brits-gesin moet deur riool loop om in die huis te gaan.
“My kinders word siek en my diere ook,” het me. Brits gesê.
“Ons huis se fondasies kraak en het geskuif omdat dit in konstante riool staan.”
Me. Brits wil die petisie, nadat 1 000 mense dit onderteken het, aan die Minister van Gesondheid stuur. Sy het klem gelê op die moontlike teenwoordigheid van die huidige koronavirus, ebola en cholera in die rioolvuil.
Die koerant het foto’s en vrae via WhatsApp aan die kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit, me. Thobeka Mtshiselwa, op Maandag 18 Mei gestuur en wag vir kommentaar.





