Me. Mari-Louise Brits van Vrystraat se pleidooi om hulp met rioolvuil in haar erf, het nie op dowe ore geval nie.
Die Standerton Advertiser se webtuiste het inligting oor haar probleem gepubliseer en aangedui dat sy reeds meer as ’n jaar sukkel om hulp van die Lekwa Munisipaliteit te verkry.
Me. Brits het vanoggend aan die koerant gesê dat ’n span van die munisipaliteit vroegoggend opgedaag het om aandag an die probleem te skenk.
Dié inwoner het wel verwysingsnommers van Lekwa bekom.
Sy het ook ’n petisie opgestel met die oog op voorlegging aan die Minister van Gesondheid.
Me. Brits het alle beskikbare metodes, insluitend die skakeling met nasionale koerante, aangewend om die probleem toe te lig.
Die Brits-gesin moet deur riool loop om in die huis te gaan.
“My kinders word siek en my diere ook,” het me. Brits voorheen gesê.
“Ons huis se fondasies kraak en het geskuif omdat dit in konstante riool staan.”
Sy het ook klem gelê op die moontlike teenwoordigheid van die huidige koronavirus, ebola en cholera in die rioolvuil.
Me. Brits het ook met die provinsiale Departement van Gesondheid in verbinding getree.
Mnr. George Mthethwa van Tradisionele Sake en Samewerkende Regering in Mpumalanga het vanoggend gesê dat hy as tussenganger opgetree het om dié probleem te help oplos.
Volgens me. Brits, het die Lekwa-span gesê dat die rioolprobleem in haar erf vandag, 20 Mei iets van die verlede sal wees.
“Ek hoop inwoners met soortgelyke probleme kan ook gehelp word,” het me. Brits bygevoeg.
Die koerant het foto’s en vrae via WhatsApp aan die kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit, me. Thobeka Mtshiselwa, op Maandag 18 Mei gestuur en wag vir kommentaar.
Lees ook: Vrystaat-inwoner is raadop met rioolvuil wat huisfondasies laat kraak



