
Asof ‘n vuisvoos Standertonner, wat gebuk onder die Covid-19 inperking gaan, nie genoeg het om sy kop te laat raas nie, klop munisipale probleme ook aan die deur.
Caledonstraat-inwoners sukkel, volgens ‘n betroubare bron, reeds meer as vyf jaar met die waterdruk en die gebied ter sprake loop vanaf Standerstraat suidwaarts, en meer as een inwoner het ‘n watertenk aangeskaf.
Voeg daarby die munisipale beurtkrag, wat verduidelik is as ‘n metode om die oorskryding van die toegelate, gespesifiseerde munisipale elektrisiteitsaanvraag hok te slaan.
Die provinsiale Eskom-skuld op rente, volgens me. Trudie Grové-Morgan, DA-woordvoerder vir Tradisionele Sake en Samewerkende Ontwikkeling, beloop R10 076 743.
Lekwa se skuld aan Eskom teen Maart is as R1-biljoen aangedui.
‘n Skedule is selfs verskaf wat nie noodwendig ‘n aanduiding gee wanneer toevoer onderbreek sal word nie en daarbenewens, funksioneer die wateraanleg op elektrisiteit.
Inwoners se watertoevoer word beduidend beïnvloed.
Die munisipaliteit het verlede Donderdag die kragonderbreking aan ‘n kabelfout in Caledonstraat toegeskryf en Sakhile en Azalea was ook geraak, met ‘n probleem van hul eie.
Inwoners maak gevolglik hul misnoeë op verskeie WhatsApp-groepe bekend en verwysingsnommers word gegee, as bewys dat die munisipaliteit ‘n aantekening gemaak het.
Nodeloos om te sê was die boodskap dat klagtes oor riool en water in die toekoms vergesel van ‘n foto moet wees, nie luid toegejuig nie.
Verstopte dreine het ook die kollig geniet met Vrystraat, wat om die verkeerde redes, blootstelling in ‘n nasionale koerant gekry het.
Die Standerton Advertiser het in bogenoemde geval met die kommunikasiebestuurder van die Lekwa Munisipaliteit, me. Thobeka Mtshiselwa, in aanraking vir kommentaar gekom.
Foto’s is ook op 18 Mei via WhatsApp gestuur.
Partypolitiek kom voorts ter sprake in dié tameletjie en die DA, wat in die laaste verkiesing wyk 10 opgeraap het, kom onder skoot.
“Ek verwag van die DA om druk op die Lekwa Munisipaliteit te plaas,” het mnr. Bok Gleeson gesê.
Mnr. Gleeson dra ook inwoners oorkant die rivier se belange op die hart, met ‘n seun wat in Meyerville bly.
Meyerville op sy eie, is egter ‘n storie vir ‘n ander dag.
Die Standerton Advertiser het op Maandag 25 Mei om 11.30vm probeer om met die koukusleier van die DA, mnr. Rosier de Ville, in aanraking te kom, maar was onsuksesvol.
Mnr. De Ville het wel op 18 Mei ‘n persverklaring uitgereik, wat op die koerant se webtuiste gepubliseer is, waarin hy die situasie rakende watervoorsiening en kragonderbrekings bespreek het.
“Die dorp is ‘n toonbeeld van swak bestuur met dienslewering wat uiters swak is, die verskaffing van water en elektrisiteit wat onbetroubaar is en die onderhoud van infrastruktuur wat totaal afwesig is,” het die verklaring gelui.
In die persverklaring is ook gewys op inwoners wat vir dienste, wat nie gelewer word nie, betaal.
“Die Demokratiese Alliansie sal aanhou druk op die raad en die munisipale bestuurder sit om te probeer seker maak dat geld korrek geallokeer word, en dat gehalte, basiese dienste gelewer word in die Lekwa Munisipaliteit.
“Die amptelike Lekwa-kommentaar vir kragonderbrekings is drieledig, naamlik onwettige verbindings, meterbrugging en die koue weer.



