Gerhard en Catherine le Roux draf, trap en reis die land plat
Hulle het goeie herinneringe van die Oudsthoorn-ondervinding, waar atlete om 7vm wegspring om tussen die olyfboorde en besproeiingswalle te hardloop, tot by die een op Hermanus tussen die bosse waar ’n bult wag, so ’n soort van ‘Polly Shortts’.
Of die Le Roux-egpaar nou die kilometers met die woonwa aflê, of die 5km-parkrun by die Standerton Rivierpark getrou doen, sien hulle sommer kans om daarna die fietse af te stof en die pad te vat.
Gerhard se beste tyd wat hy by die parkrun aangeteken het, was 39 min 38 sek, terwyl Catherine op 42 min 05 sek aangedraf het na die eindstreep.
Hulle was met vakansie toe die grendeltydperk sy houvas op die Suid-Afrikaanse samelewing gekry het en moes inderhaas van Calitzdorp op weg na Oudtshoorn omdraai.
Catherine is ‘n diabeet en het etlike kilogramme reeds afgeskud nadat sy begin deelneem het.
“Ek was byna dood met die eerste parkrun, maar my gesondheid het aansienlik verbeter en ek kan die diabetes onder beheer hou,” het sy gesê.
Dié twee pensioenarisse van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, onderskeidelik die tegniese afdeling en administratiewe sy, het in Augustus 2018 begin en reeds 73 keer die roete langs die Vaalrivier aangepak.
Daarbenewens het hulle vier ‘tourist parks’ bygewoon na onderskeidelik Oudsthoorn, Polokwane, Uvongo en Hermanus.
Hulle het goeie herinneringe van die Oudsthoorn-ondervinding, waar atlete om 7vm wegspring om tussen die olyfboorde en besproeiingswalle te hardloop, tot by die een op Hermanus tussen die bosse waar ‘n bult wag, so ‘n soort van ‘Polly Shortts’.
“Hermanus was taai, maar heerlik,” was hulle opsomming.
Die humiditeit kan ‘n mens dalk vang by die Uvongo-parkrun, waar deelnemers op die strand hardloop vanaf Ramsgate en terug. Die Le Rouxs beplan om die omgewing te verken en aan te meld op Vrede, Secunda en Wakkerstroom vir die gebruiklike Saterdagoggendoefening.
Gerhard glo vas dat die waarde van die eet van ‘n piesang voor die tyd nie onderskat kan word en die vorige aand, is daar pasta op die etensborde.
Catherine se deursettingvermoë strek sover dat sy eers die roete voltooi het nadat sy haar knie stukkend geval het, voor die dokter opgesoek is.
Hulle is ‘n bekende gesig op die dorp met die kleinkinders, wat graag by ouma slaap, ook vir die parkrun geregistreer.
“Ek het my kinders geleer dat jy klaarmaak wat jy begin het,” het Gerhard mee afgesluit.





