Louis Fourie wag in spanning vir kompeterende hengel se aanvang
Standerton en Distrik Hengelklub kan spog met Springbokke van die kaliber van Dirk Nel, Francois Scheepers, Dirk Nortjé en Niel Jansen van Rensburg.
Louis Fourie van Standerton en Distrik Hengelklub moes sy sienswyse as rugbyspeler effe wysig wat hengel betref.
Tydens ‘n destydse toer na Mariental in Namibië saam met die juniors as bestuurder, het hy besef wat hy as kind misgeloop het.
Hy het rugby op skool gespeel en klubrugby vir die dorp en hengel afgemaak as ‘n sport vir sissies.
“Ek raai alle kinders aan om te begin hengel en ‘n mens word op die koop toe aan die natuur blootgestel,” het Louis gesê.
Hy het sommige toere gelykgestel aan krieket se Goldi-week en rugby se Cravenweek.
Louis het egter geen illusies oor dié sport nie want dit kan veeleisend wees as die vroeë oggendure in ag geneem word, die blootstelling aan die elemente en die tydsaspek.
“‘n Mens wag nie vir agt ure vir die vis om te byt nie, maar maak planne dat die vis kan byt,” het hy bygevoeg.
“Jy gooi nie net in en die volgende een in die glas nie.”
Dié hengelaar het ‘n redelike lang rugbyloopbaan gehad, tot op 36 jaar meegeding as senter en vleuel, en was op soek na ‘n sport wat die hele gesin kon beoefen.
Sy oorlede skoonpa, Piet van der Merwe het hom touwys gemaak en vandag hengel hy en sy seun, Jaco mededingend.
Die stuk of 40 klublede kan vorder van ligahengel tot provinsiale vlak, wat insluiting in Mpumalanga se A-, B- of C-span beteken.
‘n Lid kan deel word van Mpumalanga se ontwikkelingspan en Louis het tans plek in die Mpumalanga B-span.
Onderrig is nie te versmaai nie want ‘n groot sprong kan na nasionale vlak gemaak word.
“Dit is seker enige sportman se droom om Protea-kleure te verwerf.”
Standerton en Distrik Hengelklub kan spog met Springbokke van die kaliber van Dirk Nel, Francois Scheepers, Dirk Nortjé en Niel Jansen van Rensburg.
‘n Goeie 80 persent van klublede wedywer ook op provinsiale vlak en agt is in Mpumalanga se A-span opgeneem.
Louis het vier visstokke en vier katrolle, ‘n viskas en ‘stand’ en daar gaat hy met 10 dippies en ‘n paar ‘floaties’.
“Ek is nie een vir tierlantyntjies nie.”
Oewerhengel, hoewel redelik duur aanvanlik, is ook bekostigbaar.
“Ons hengelaars is so gefrustreerd met die grendeltydperk en wil graag die hengelfamilie weer sien,” het hy mee afgesluit.
“Ons kan nie wag dat kompeterende hengel weer toegelaat word nie.”




