Covid-19 gevalle by ouetehuis op Standerton na Barberton verskuif
Die personeeltekort en verblyfgeriewe om goeie behandeling te verseker, is ook genoem, sowel as senior personeel se graad van uitputting.
Kosmos Aftree-oord op Standerton het op Vrydag 24 Julie altesaam 18 mense wat positief vir die koronavirus getoets het, na ‘n fasiliteit op Barberton verskuif.
Volgens die Department van Gesondheid, is dit ‘n spesifieke geriatriese Covid-19 hospitaal.
Bogenoemde departement, die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, hoofde van twee hospitale en die aftree-oord het op Donderdag 23 Julie vergader en besluit om die Covid-19 pasiënte te verskuif.
Volgens mnr. Jack la Grange, bestuurder van die tehuis, het matrone Annatjie Steyn die pasiënte vergesel om te verseker dat die nodige en korrekte sorg toegepas word.
“Matrone sal na die pasiënte se emosionele welstand omsien,” het mnr. La Grange gesê.
“Pasiënte wat tans in hospitale behandel word, sal na hulle gestabiliseer is, na die fasiliteit verskuif word totdat die kwarantyntydperk verby is en hulle nie ander kan aansteek nie.”
Die ouetehuis sal in hulle afwesigheid weer in geheel ontsmet word en voorbereidings tref om alle gesonde pasiënte en inwoners, wat intussen na familie gegaan het, weer terug te neem.
Hy het ook beklemtoon dat pasiënte geskuif word omdat die oord nie verdeel kan word om genoegsame afsondering te kry tussen gesonde en Covid-19 pasiënte nie.
Die personeeltekort en verblyfgeriewe om goeie behandeling te verseker, is ook genoem, sowel as senior personeel se graad van uitputting.
“Dit word ‘n onhoudbare situasie vir personeel en pasiënte,” het hy bygevoeg.
Die aanloop tot dié besluit spruit uit die tehuis wat sedert 15 Julie moes bontstaan nadat van die inwoners en werknemers besmet is. ‘n WhatsApp-boodskap het aangedui dat die familie van betrokkenes in kennis gestel is en op hoogte van verwikkelinge gehou sal word.
Die afsterwe van ‘n inwoner, mnr. Eric Louw, op 20 Julie kon nie aan deurslaggewende Covid-19 verwante oorsake toegeskryf word nie.
‘n Ander inwoner, me. Winsie Beukes, is dood op 21 Julie, mnr. Thys Lourens het op 24 Julie gesterf en sy afsterwe was nie Covid-19 verwant nie, terwyl mnr. Willie Venter van die sorgsentrum op dieselfde dag aan Covid-verwante komplikasies in die hospitaal oorlede is.
Mnr. La Grange het op Dinsdag 21 Julie statistieke rondom die koronavirus, sowel as prosedures wat gevolg word, bekendgemaak.
Die Standerton Advertiser het op sy webtuiste die volledige verklaring geplaas, wat in ‘n neutedop die dilemma om te bepaal wie aangesteek is, bespreek het.
Bykomend is in ag geneem dat personeel nie onwetend van een aangesteekte persoon na ‘n ander beweeg en op dié wyse blootgestel word.
Altesaam 19 inwoners het op 21 Julie positief getoets, twee negatief en op 30 uitslae is gewag, terwyl 15 personeellede positief getoets het, vyf negatief en op 18 uitslae gewag is.
Kosmos Aftree-oord was vanaf Vrydag 24 Julie algeheel in afsondering, met inwoners se bewegingsvryheid wat aan bande gelê is, wat volgens mnr. La Grange, tot hulle beswil is. “Dit is die bes moontlike oplossing om diens te lewer.”
Die tydsaspek is op 10 dae geraam.
Notice: Coronavirus reporting at Caxton Local Media aims to combat fake news
Dear reader,
As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Caxton Local Media is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
Readers with any comments or queries may contact National Group Editor Irma Green (irma@caxton.co.za) or Legal Adviser Helene Eloff (helene@caxton.co.za).



