Local newsNews

Isabel Watson se gesondheid gaan agteruit

Gesin benodig ondersteuning, kos, toiletware en motorbande

SECUNDA – Me. Isabel Watson se gesondheid het drasties agteruit gegaan.

Die Ridge Times het in Maart verlede jaar oor me. Watson berig wat in 2014 met borskanker gediagnoseer is.

Sy het in 2015 chemobehandeling ondergaan voordat sy ‘n dubbele mastektomie gekry het en die limfnode onder haar arm is verwyder.

Sy het in 2017 bestraling ook gekry om seker te maak die kanker kom nie terug nie.

Sy het egter in die begin van 2018 ‘n diagnose van gewasse op haar baarmoeder ontvang.

Me. Watson het in Mei 2018 met hoofpyne begin sukkel. Na verskeie hospitaalbesoeke het die dokters eers gedink sy het ‘n beroerte gehad omdat sy gesukkel het om te loop en te praat, maar toetse het egter getoon dat drukking op die brein die hoofpyn veroorsaak het.

Sy moes toe vir weke aaneen in die hospitaal bly vir verskeie toetse en behandeling en het verlede jaar reeds 42kg verloor.

Me. Watson sukkel steeds met haar gesondheid en het nou nog gewig verloor.

Lees ook: Isabel Watson wil lewe vir haar seuntjie – benodig dreineringspyp in haar brein

Sy wag al langer as ‘n jaar om ‘n dreineringspyp in haar brein te kry, maar elke keer wanneer sy die dokters by die Steve Biko Hospitaal in Pretoria gaan sien, kan hulle nog nie vir haar die pypie insit nie.

“Hulle sê daar is nie ‘n dokter beskikbaar wat dit kan doen nie en nou sê hulle weens die koronavirus kan hulle dit nie doen nie,” het me. Watson gesê.

Sy is al die afgelope vier dae bedlêend en kan ook nie eet sonder om op te gooi nie.

Haar verloofde werk voltyds, maar omdat hulle weekliks na Steve Biko Hospitaal moet gaan om vir haar medisyne vir die pyn te kry, bestee hulle bykans sy hele salaris op brandstof.

Me. Watson is moedeloos en het gesê verlede week toe hulle hospitaal toe was, het hulle deur ‘n slaggat gery en twee van hul motor se bande is beskadig.

“Iemand van Delmas het ons toe kom help en vir ons bande geleen, maar nou moet ons dit aan hom terug besorg. Dit is egter nog op ons motor, sonder dit het ons nie vervoer nie,” het sy gesê.

Die paartjie se seun, Raven, is nege jaar oud en is ook tuis omdat die skole nou weer gesluit het.

Dit was nog altyd me. Watson se grootste droom om self haar seuntjie na rugbyoefeninge te neem en hom te sien speel, maar weens haar gesondheid kan sy selde uit die huis gaan.

Die gesin se koskaste is leeg en me. Watson het gesê sy is desperaat en weet nie meer wat om te doen nie.

“Ek weet nie of die dokters ook al hoop opgegee het met my en moed verloor het nie, want hoekom kan hulle my nie met die dreineringspyp help nie,” het sy gesê.

Me. Watson is heeltemal blind in haar een oog en het net 45 persent sig in die ander oog. Me. Ilse Cooper, vrywilliger wat by die House of Mercy Hospice werk en vir jare by Kansa op Secunda gewerk het, besoek die gesin gereeld en help waar sy kan. Me. Tracey van Wyk van die ATKV ondersteun ook die gesin en het vir hulle bietjie kruideniersware geneem.

Belangstellendes wat kos, bande vir hul motor of enige toiletware wil skenk, kan me. Cooper skakel by 079 211 0346.

Me. Isabel Watson en haar seuntjie, Raven, in Maart verlede jaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button