Die Vryheidsfront Plus het op Vrydag 7 Augustus ‘n verklaring uitgereik oor die strafregtelike aanklag wat teen amptenare van die Lekwa Munisipaliteit gelê is oor besoedeling van die Vaalrivier.
Me. Gugulethu Mhlongo-Ntshangase, munisipale bestuurder, en me. Zandile Mngadi, hoof van tegniese dienste, staan tereg op die aanklag.
Volgens die verklaring is Artikel 151 (i) (j) van die Nasionale Waterwet (36 van 1998) en die Afvalbestuurswet (59 van 2008) van toepassing.
“Die munisipaliteit is ook in minagting van ‘n Hooggeregshofbevel van 2018 vir besoedeling,” het mnr. Werner Weber, provinsiale leier in Mpumalanga, gesê.
Die nasionale departement van water en sanitasie het in 2018 gesorg dat die hooggeregshof ‘n bevel teen die munisipaliteit uitreik om hul rioolstasies dadelik te herstel en om te verhinder dat die Vaalrivier en ander bronne verder besoedel word.
Die VF Plus het gesê dat inligting en video-opnames van inwoners op Standerton daarop dui dat riool vir jare reeds in die rivier inloop en die bevel is bloot geïgnoreer.
Die party is van mening dat ‘n strafregtelike klagte ingedien moes word omdat die munisipaliteit besluit het om alle vorme van dissipline te ignoreer.
Hulle sal die saak ook deur die nasionale raad van provinsies (NRP) direk met die verantwoordelike minister opneem.
“Daar moet ‘n presedent geskep word vir amptenare wat besoedeling toelaat,” het die verklaring mee afgesluit.
“Hulle moet ontslaan en strafregtelik vervolg word om ‘n einde aan dié probleem te maak.”
Lees ook: Freedom Front Plus takes action against pollution of the Vaal River



