CHARL CILLIERS – Ds. Bennie Marais, leraar van die NG Kerk op Charl Cilliers, het gesê dié kerk wil hul uiterste teleurstelling teenoor die reaksie, of eerder die gebrek aan reaksie van die regering, en in die besonder President Cyril Ramaphosa, oor die plaasmoorde in Suid-Afrika uitspreek.
Ds. Marais het in ’n persverklaring gesê enige regering behoort die plaasmoorde ten sterkste te veroordeel en ook daadwerklik op te tree teen die mense wat sulke grusame moorde pleeg.
“Die moorde en aanvalle op boere en hul personeel moet stopgesit word.
“Ongelukkig kan die voortdurende stilswye en gebrek in reaksie van die president slegs vertolk word as ’n stilswyende goedkeuring van dié moorde.
“Die halfhartige poging van die president waarin slegs kortweg na plaasmoorde verwys is en daarna opgevolg is met: ‘dat elke lewe in die land gelyke waarde het en dat elke moord en geweldsmisdaad sonder onderskeid veroordeel moet word,’ dui net op die gebrek aan begrip van die probleem waarmee die boeregemeenskap (wit en swart) daagliks te kampe het.
“Uit Bybelse waardes veroordeel die gemeente ook alle moorde wat daagliks in Suid-Afrika plaasvind en glo dat die regering ook daarteen moet optree met doeltreffende polisiëring, doeltreffende vervolging en gepaste vonnisse vir persone wat hul daaraan skuldig maak.
“Die huidige strawwe wat in geregshowe opgelê word, dien ongelukkig glad nie as afskrikmiddel om moord te pleeg nie.”
Die gemeente op Charl Cilliers bestaan hoofsaaklik uit ’n boeregemeenskap en volgens ds. Marais, leef dié boere daagliks in vrees omdat die regering nie in staat is nie, of nie bereid is om na die boere en hul gesinne se veiligheid op plase om te sien nie.
“Ons betrokke gemeente het al deur die dal van doodskaduwee gegaan en dit het groot hartseer en ’n groot leemte in die gemeente en ons gemeenskap veroorsaak.
“Die boere van die dag is tog die mense wat vir ons die kos op die tafel voorsien en ook werk aan baie mense verskaf.
“Plaasaanvalle is besig om drasties toe te neem en die geweld wat daarmee gepaard gaan, het ongekende vlakke bereik.
“Daarom pleit ons as gemeente by die president van ons land, om plaasmoorde as ’n prioriteitsmisdaad te verklaar, ’n spesiale ondersoekeenheid vir die ondersoek en vervolging van plaasmoorde in te stel en in die algemeen sterk reaksie te toon in die veroordeling van plaasmoorde.”



