MunicipalNews

AfriForum op Standerton wil beurtkragbesluit in howe laat hersien

“Die besluit is beslis ongrondwetlik en voldoen nie eens aan die standaarde van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 nie.”

AfriForum en Eskom, sowel as die Lekwa Munisipaliteit op Standerton, kan moontlik in die hof koppe stamp oor die inwerkingstelling van bykomende beurtkrag weens die munisipaliteit se agterstallige rekening.

Dié burgerregte-organisasie het in ‘n persverklaring van 19 Augustus gesê die kragreus se landwye beurtkrag en bykomende beurtkrag laat die gebied daagliks met slegs ses tot agt uur met krag.

Volgens die verklaring, betaal verbruikers in baie gevalle hul elektrisiteitsrekeninge getrou aan die munisipaliteit, maar die munisipaliteit versuim om dit aan Eskom oor te betaal.

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om die howe te nader vir ‘n bevel om dié besluit te hersien indien Eskom nie hierdie wanpraktyk staak nie.

“Eskom kan nie agter ‘n kontraktuele remedie skuil en ‘n onbillike proses volg deur hul besluit om bykomende beurtkrag toe te pas nie,” het mnr. Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslike Regeringsake, gesê.

“Eskom neem dié besluit, wat grootskaalse skade aan gemeenskappe aanrig, in die afwesigheid van enige openbare deelnameproses.

“Die besluit is beslis ongrondwetlik en voldoen nie eens aan die standaarde van die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 nie.”

Mnr. Mostert het ook gesê dat dit vreemd is dat Eskom hierdie klousule oral in werking stel waar munisipaliteite reeds agterstallig is.

“Daar is ‘n reeks ander remedies beskikbaar, maar Eskom verkies om die een te gebruik wat die meeste skade berokken.”

Mnr. Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het gesê Eskom skep nou ‘n geval waar hulle die verbruik van elektrisiteit kelder deur die maksimumaanvraagklousule te gebruik.

“Dit kan moontlik tot ‘n kragtariefverhoging lei,” het mnr. Pretorius ook gesê.

“Eskom kan nie self ‘n situasie skep, maar later hoër tariewe van die verbruiker verwag nie. Hulle moet billike prosesse volg wat aan toepaslike wetgewing voldoen.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button