EENDRACHT – Plaaslike inwoners is moeg vir die riool- en ander probleme op dié dorp.
“Dit is al ‘n norm vir die inwoners by die ouetehuis om met rioolprobleme te sit,” het mnr. Nico Coetzer wat al ‘n jaar op Eendracht woon, gesê.
Die munisipaliteit het glo grond in Eendracht aan ‘n ontwikkelaar verkoop wat dit wil gebruik vir ‘n vragmotorstaanplek.
“Ons soek nie die vragmotors hier nie, dit is juis ‘n stil dorpie en nou wil hulle van dit ‘n industriële gebied maak,” het mnr. Coetzer gesê.

Volgens hom het die inwoners verlede week ‘n vergadering gehou en ‘n komitee gekies om iets aan dié nuwe ontwikkeling en ander probleme op die dorp te doen.
“Die infrastruktuur sal nie die nuwe ontwikkeling kan hanteer nie. Hier is nie eens teerstrate of straatligte nie,” het mnr. Coetzer gesê.
Volgens hom sien hulle die munisipale voertuig wat die septiese tenks van die huishoudings en ouetehuis op Eendracht moet uitsuig, net een keer elke drie of vier maande.
“As ek die munisipaliteit skakel en daaroor kla, kom die voetuig hier uit, dan gaan dit goed vir so week en dan verdwyn hy weer.”
Riool spoel gereeld oor in die strate van Eendracht en dit stoot op in mense se toilette omdat die septiese tenks nie gereeld uitgesuig en skoongemaak word nie.
Inwoners betaal glo maandeliks bykans R500 vir riool, maar dié diens word nie maandeliks gelewer nie.
Ridge Times het drie munisipale werknemers in die kommunikasie-departement van Govan Mbeki Munisipaliteit om kommentaar genader, maar nie een van hulle het teen druktyd op die vrae gereageer nie.




