‘n Inwoner het die Standerton Advertiser op Maandag 19 Oktober genader met drie klagtes wat almal verband hou met munisipale verordeninge.
Ondersoek moes van meet af aan ingestel word of die Lekwa Munisipaliteit verordeninge deur die raad laat goedkeur het om onwettige stortingsterreine te verhoed, rondloperdiere te laat skut en algemene verkeersregulasies in die dorpsgebied af te dwing.
Die bestuurder van regsake by die munisipaliteit, mnr. Vincent Nenzhelele, het geredelik ingestem dat die verordeninge afgelaai kon word op ‘n geheuestokkie.
Mpumalanga se provinsiale koerant het in 2018 verordeninge gepubliseer wat betrekking het op elektrisiteitsvoorsiening, advertensieborde, oorskryding van munisipale eiendom, straatsmouse, besmette afval, begraafplase, taxi’s, informele nedersettings en oop gebiede.
Die inwoner wat verkies om anoniem te bly, het die skuld vierkantig geplaas op die munisipale bestuurder, me. Gugulethu Mhlongo-Ntshangase, wat volgens haar in gebreke bly om die nodige regulasies af te dwing.
Onwettige stortingsterreine is geen nuutjie nie en een agter die Tower-sentrum in Charl Cilliersstraat getuig van sodanige optrede.
Me. Barbara Sheppard wat ‘n onderneming langsaan bedryf, het dieselfde dag gesê dat sy al die munisipaliteit genader het, sonder sukses.
“Ek het ook al met twee verskillende gesondheidsinspekteurs gepraat.
“Die eerste een was besig daarmee en is verplaas.
“Ek kon net een keer met haar opvolger praat en kon haar nog nie weer in die hande kry nie.”
Lekwa het werk van onwettige stortingsterreine gemaak toe vullisverwydering geskied het.
Voorts is rondloperbeeste ‘n tameletjie wat sowel die munisipaliteit as die DBV betrek.
Die koerant het in die verlede aangedui dat ‘n ooreenkoms nie tussen Lekwa en die DBV bereik kon word nie en ook het die plaaslike DBV, soos berig, hul geriewe in die industriële gebied toegemaak.
Wat afdwinging van verkeersregulasies betref, hang dit af of die aanstellings van verkeersbeamptes deur die munisipaliteit gedoen is, of op provinsiale vlak.
Die Standerton Advertiser het op Saterdag 24 Oktober met die kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit, me. Thobeka Mtshiselwa, in verbinding getree en navraag gedoen of Lekwa in die toekoms verordeninge vir bogenoemde kwessies sal oorweeg.
Genoegsame tyd sal vir kommentaar gegee word waarna lesers op hoogte gebring sal word.






