BETHAL – Die juwelier, mnr. Francois Pretorius, wat tereg staan op aanklagtes van moord op dr. Hannes en me. Ibel Beukes, het op Vrydag, 11 Desember weer in die landdroshof op Bethal verskyn.
Mnr. Pretorius word daarvan beskuldig dat hy die Beukes-egpaar op 18 Maart glo in die plaashuis wat hy toe gehuur het, vermoor het.
Die egpaar se liggame is in die kattebak van hul motor gevind wat in ‘n veld naby Bethaldam gestaan het.
‘n Verbygaande motorfietsryer het die motor gewaar en onraad vermoed en die polisie geskakel.
Mnr. Pretroius is ‘n week later op sy skoonpa, mnr. Ernst van der Berg, se plaas buite Belfast in hegtenis geneem nadat hy voortvlugtig was.
Sy prokureur het tydens een van sy vorige hofverskynings aangevoer dat mnr. Pretorius aan ‘n siekte, naamlik serebrale outosomale dominante arteriopatie met subkortikale infarkte en leukoencefalopatie (CADASIL) ly en nie toerekeningsvatbaar sou wees vir die hofsaak nie, maar verslae van dokters het bewys mnr. Pretorius is wel toerekeningsvatbaar vir sy dade.
Sy saak is uitgestel na Dinsdag, 15 Desember.
Teen druktyd het Bethal-inwoners op sosial media gesê hulle gaan Dinsdag by die hof in vrede betoog dat mnr. Pretorius nie op borgtog vrygelaat moet word nie.
Hy doen glo op Dinsdag, 15 Desember om borgtog aansoek.
“Hy het twee mense doodgemaak, wat sal hom keer as hy uitkom om nog dood te maak,” het ‘n inwoner gesê.
“Hy moet eerder in die tronk bly.”



