‘n Inwoner in Leydsstraat het vandeesweek genoem dat die oprit na hul huis onbegaanbaar is met die massa water daarbuite.
Die eiendomswaarde van die huis is ter sprake en aanhoudende deursypeling onder die plaveisel, kan die fondamente van die struktuur wesenlik raak.
Motoriste het reeds ‘n paadjie verby die watermassa gemaak om te ry na die kruising tussen Kieser- en Leydsstraat en die sondebok is die reservoir in Kieserstraat.
Die roete in Leydstraat, as die water opdroog, is gevul met slaggate.
“‘n Mens sal jou voertuig kan afskryf,” het die inwoner gesĂȘ.
Haar besoekers neem vir lief daarmee om skuins voor die huis te parkeer.
Die Standerton Advertiser het reeds in Oktober 2018 oor waterprobleme berig met Standertonners wat soms geen water het nie.
Ondersoek is destyds by die pompstasie en reservoir in Kieserstraat ingestel waar watervermorsing hoogty vier.
Soos gepubliseer, het water uit toerusting gespuit.
Die verouderde infrastruktuurverskoning stel inwoners nie meer tevrede nie, wat deeglik bewus is van die waterlekke op die dorp.
‘n Bron het destyds aangevoer dat daar geen vinnige oplossings is nie en het voorspel dat waterprobleme selfs kan vererger, as die munisipaliteit nie so gou as moontlik ingryp en optree nie.
Die Standerton Advertiser het met die kommunikasiebestuurder van die Lekwa Munisipaliteit, me. Thobeka Mtshiselwa, op Donderdag 14 Januarie in verbinding getree en die aard van die probleem aangedui.
Terugvoering sal, wanneer beskikbaar, gegee word.



