27 Januarie – 12.28nm
Ermelo Polisie se speurdiens het een van die ontsnapte gevangenes, mnr. Njabulo Nsimbande (27) in Nyibe in hegtenis geneem.
Die ander verdagte, mnr. Sabelo Nkosi (24) is steeds op vrye voet.
26 Januarie – 21.17nm
Polisie in Mpumalanga het ’n soektog van stapel gestuur na ’n voorval waar twee gevaarlike gevangenes vroeër vandag, Dinsdag 26 Januarie uit aanhouding ontsnap het.
Die verdagtes is mnr. Sabelo Nkosi (24) en mnr. Njabulo Nsibande (27).
Die mans het na bewering in die Gert Sibande-distrik naby Ermelo se korrektiewe dienste ontsnap nadat hulle vanaf die landdroshof in Breyten na die korrektiewe fasiliteit vervoer is.
Nkosi en Nsibande is aanvanklik in hegtenis geneem nadat hulle glo in Desember 2016 verskillende misdrywe gepleeg het.
Dié oortredings sluit moord, poging tot moord, twee aanklagtes van verkragting, asook twee aanklagtes van roof met verswarende omstandighede in – albei staan tereg op die genoemde aanklagtes.

Die ontsnaptes het voor die Mpumalanga-divisie van die hooggeregshof op Maandag, 25 Januarie, op Breyten voorgekom.
Die polisie doen ’n beroep op lede van die publiek, insluitend die familie van die verdagtes, om hulp te verleen met inligting wat kan lei tot die duo se inhegtenisname.
Mense kan speursersant Mmabatho Mafate van die Ermelo-eenheid skakel by 072 610 5768.
Alternatiewelik kan mense Crime Stop skakel by 08600 10111.

Lede van die publiek wie inligting het, kan ook die MYSAPSAPP – toepassing wat op enige slimfoon afgelaai kan word, benut.
Alle inligting word as vertroulik hanteer en mense wat inskakel kan kies om anoniem te bly.
‘n Interne ondersoek om te bepaal hoe die skurke ontsnap het, is ook geloods.



