AfriForum se noordstreek-beheerkamer het in Desember bystand verleen aan die AfriForum-buurtwagte in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga.
Die doel is om buurtwagte te versterk en te verseker dat hulp en die nodige hulpbronne vinniger ontbied kan word.
Volgens ‘n onlangse persvrystelling, is meer as 260 voorvalle hanteer, waaronder ‘n huisbraak op Standerton.
Die beheerkamer het die polisie in kennis gestel en ¦n verdagte is vasgetrek en in hegtenis geneem.
“Die suksesse wat behaal en bystand wat verleen word, beklemtoon weer eens die belangrike rol wat die beheerkamer speel om ons gemeenskappe te versterk en te beveilig,” het mnr. Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek, gesê.
Die AfriForum-buurtwagte in die noordstreek het die afgelope drie maande sigbaarheid in die drie provinsies, in samewerking met verskeie veiligheidsinstansies, verhoog as deel van die burgerregteorganisasie se nasionale sigbaarheidsprojek.
Volgens inligting, het nagenoeg 2 280 buurtwaglede en 1 204 ander veiligheidsrolspelers aan die verskeie projekte deelgeneem.
AfriForum het op 1 November verlede jaar ‘n nasionale projek van stapel gestuur het om polisiëringsigbaarheid oor die feesseisoen te verhoog, wat tot 15 Januarie voortgeduur het.
Volgens mnr. Bronwen Pretorius, provinsiale veiligheidskoördineerder vir Mpumalanga, is dit ‘n riem onder die hart om te sien dat buurtwagte altyd daar is om hul gemeenskappe te beveilig, ‘n veiliger omgewing te skep, en goeie samewerking met die polisie en ander veiligheidsinstansies te handhaaf.



