Die Ermelo Business Association (EBA) tesame met die Msukaligwa Munisipaliteit (MLM) het kragte saamgesnoer om tydelike verligting aan padverbruikers tussen De Emigratieweg en Chris de Villiersstraat te bring.
Volgens mnr. Athol Stark, president van die EBA, is daar uitgereik na die MLM om die padoppervlak tot ’n sekere mate te rehabiliteer.
Dié gebied, wat met slaggate deurtrek is, is nie net vir inwoners en padverbruikers ’n seeroog nie, maar hou ook ’n risiko vir skade aan hul voertuie in.
Mnr. Stark het aan die Hoëvelder gesê dat nie net ligte voertuie hieronder gebuk gaan nie, maar ook vragmotors wat gereeld in die massiewe, watergevulde sinkgat in Chris de Villiersstraat vasval.
“Die koste om dié vragmotors te laat uitsleep, maak ongetwyfeld ’n duik in die beursies van vervoerondernemings – veral oor dit aan die toeneem was,” het mnr. Stark gesê.
“Die feit dat vragmotors ook geen alternatiewe roetes weens munisipale padverordeninge, kon gebruik nie, het talle vragmotorbestuurders hande in die hare gelaat.”
Volgens mnr. Stark, het hulle reëlings getref met verskeie munisipale rolspelers om die hele gebied vir swaarvoertuie, insluitend die roete vir swaarvoertuie, af te sper.
Inwoners van die omgewing en ander ligte motorvoertuie sal egter steeds toegelaat word om in die gebied te ry.
Hoewel daar onteenseglik hoop vir inwoners lê in dié herstelwerk, het mnr. Stark inwoners gemaan om verdraagsaam te wees teenoor vragmotorbestuurders siende daar nou ’n toestroming van swaarvoertuie sal wees van Voortrekkerlaan, wat in Kerkstraat indraai en vanuit die De Emigratie-kruising uit Ermelo, in die rigting van Volksrust.
“Dit is bloot ’n tentatiewe oplossing tot en met die sinkgat gedreineer en die nodige herstelwerk aan die pad gedoen sal word,” het mnr. Stark bygevoeg.
Vir enige navrae oor dié projek, kan inwoners mnr. Stark by 082 786 7959 skakel.



