Verskeie rolspelers maak groot verskil aan Ermelo se baadjie
Sakelui vanuit die industriële gebied van Ermelo het tydens vergaderings die stand van die Chris De Villiers-pad en die uitwerking daarvan op hul ondernemings bespreek - sommige van die ondernemings het glo oorweeg om hul deure toe te maak.
Verskeie rolspelers insluitend sakelui en die Msukaligwa Munisipaliteit, het kragte saamgesnoer om tydelike verligting aan padgebruikers tussen De Emigratieweg en Chris de Villiersstraat te bring.
Die hoofdoel was om die padoppervlak tot ‘n sekere mate te rehabiliteer.
Dié gebied, wat met slaggate deurtrek was, was nie net vir inwoners en padgebruikers ‘n seeroog nie, maar het ook ‘n risiko vir skade aan hul voertuie ingehou.
Nie net ligte voertuie het hieronder gebuk gegaan nie, maar ook vragmotors wat gereeld in die massiewe, watergevulde sinkgat in Chris de Villiersstraat vasgeval het.
Die koste om dié vragmotors te laat uitsleep, het ongetwyfeld ‘n duik in die beursies van vervoerondernemings gemaak – veral omadat dit aan die toeneem was.
Terwyl vragmotors ook geen alternatiewe roetes weens munisipale padverordeninge kon gebruik nie, is talle vragmotorbestuurders hande in die hare gelaat.
Die hele gebied vir swaarvoertuie, insluitend die roete vir swaarvoertuie, was afgesper.
Inwoners van die omgewing en ander ligte-motorvoertuie was egter steeds toegelaat om in die gebied te ry.
Hoewel daar onteenseglik hoop vir inwoners in dié herstelwerk gelê het, was inwoners gemaan om steeds verdraagsaam te teenoor vragmotorbestuurders te wees siende daar ‘n toestroming van swaarvoertuie in Voortrekkerlaan, wat in Kerkstraat indraai en vanuit die De Emigratie-kruising uit Ermelo, in die rigting van Volksrust, was.
Dit was bloot ‘n tentatiewe oplossing tot en met die sinkgat gedreineer en die nodige herstelwerk aan die pad gedoen is.
Sakelui vanuit die industriële gebied van Ermelo het tydens vergaderings die stand van die Chris De Villiers-pad en die uitwerking daarvan op hul ondernemings bespreek – sommige van die ondernemings het glo oorweeg om hul deure toe te maak.
In verdere vergaderings is vervoerondernemings ook ingesluit.
Dit het gelei tot ‘n lewensvatbare plan om die padkwessie aan te spreek.
Vragmotoreienaars het gedurende die vergaderings melding gemaak van die skade wat aan hul voertuie berokken word weens die toestand van die pad.
Mnre. F. J. Oosthuizen en Gerhard de Kock van SG Coal, Van Wettens, Ellwyn Thomas en James Gregory van Wozani Berg Gasoline, SMP CUB, Mavuso Towing, Koos Olivier van Signs to See, Armidillo Transport en Ronnie en sy span van die munisipaliteit, het gesamentlike bydrae gelewer om van dié projek ‘n sukses te maak.
Pick n Pay, Vida Water en ‘n dankbare inwoner het aan werkers iets te ete en te drinke geskenk.
Die pad is op 15 Maart voltooi.



